|

AfriForum-teenboelieveldtogspan besoek Laerskool Gene Louw

AfriForum se teenboelieveldtogspan en sy gelukbringer, Matteus, het op 13 September in samewerking met die Durbanville-gemeenskapsforum die Laerskool Gene Louw besoek. Dié veldtog skep bewusmaking oor boeliegedrag en rus kinders met die nodige kennis en vaardighede toe om boeliery te bekamp.

AfriForum se boodskap, geïnspireer deur die konsep van die “volle wapenrusting van God”, het diep by die leerders inslag gevind. “Veilige skole bou veilige gemeenskappe, nie net nou nie, maar ook vir die toekoms. Ons wil hê elke leerder moet weet hoe om boelies te identifiseer en te hanteer,” sê Tania Scheepers, projekassistent vir onderwys by AfriForum.

Vir sewe jaar reeds bemagtig AfriForum se teenboelieveldtog skole landwyd. “Ons skep hoop en moedig kinders aan om mekaar met respek te behandel. Deur jong boompies te buig, vorm ons die toekoms van ons gemeenskappe,” sê Leandie Bräsler, gemeenskapsforumkoördineerder by AfriForum.

Volgens ’n akademiese joernaalartikel in die South African Journal of Education in 2018 is boeliery is ’n internasionale verskynsel waarvan die voorkoms al hoe meer sigbaar geword het in Suid-Afrikaanse skole. Hierdie verskynsel het duidelik geword deur hoofstroommedia-verslae en sosialemediavideo’s wat soos ’n veldbrand versprei en tot openbare kommer oor die gebrek aan veiligheid in Suid-Afrikaanse skole gelei het. Bestaande vrese oor veiligheid sluit fisiese geweld, seksuele teistering en meer onlangs, kuberboelies, in. Hierdie vrese neem toe aangesien kinders reeds van ’n baie jong ouderdom aan onveilige omstandighede by skole blootgestel kan word.

“Boeliebewusmaking is baie belangrik by skole. Kinders word blootgestel aan verskillende elemente en gedrag binne en buite die skool en moet leer hoe om alles op ’n positiewe manier te hanteer. Sosiale media by die ouer kinders speel ’n baie groot rol in boeliegedrag en het ook ’n baie groot impak. Kinders wil ook nie altyd na hul ouers of onderwysers luister wanneer dit by boeliegedrag kom nie, dus is dit so lekker om iemand van buite te kry wat met die kinders kom praat. Boeliegedrag moet hokgeslaan word. Kinders moet weet dat ’n boelie skade aan ander verrig en dat hy nie cool is nie,” meen Chanel Coetzee, berader by Laerskool Gene Louw.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog en om die gratis teenboelie- en kuberboeliegids af te laai, besoek www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings