AfriForum-teenboelieveldtogspan besoek Laerskool Muldersdrif


Die burgerregte-organisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 2 April 2019 besoek by die Laerskool Muldersdrif afgelê. Dié veldtog skep bewustheid oor afknouery in skole.

AfriForum wil met sy teenboelieprojek saam met leerders, onderwysers en ouers werk om afknouery in skole hok te slaan en die betrokke partye met die kennis toerus om dit reg te kry.

“Tydens ons besoek verduidelik ons graag vir die leerders wat die verskil tussen afknouery en konflik is, omdat hulle hierdie twee konsepte dikwels met mekaar verwar. Dit is ook belangrik dat leerders weet dat afknouery herhalend en doelbewus plaasvind. Ons wil kinders aanmoedig om ander te behandel soos hulle graag behandel wil word, om hulle eie identiteit te koester en om sodoende ook wedersydse respek teenoor ander se identiteit te toon,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.

Natasha Smit, dieetkundige van Natasha Smit Geregistreerde Dieetkundige, meen dat boeliebewusmaking in skole baie belangrik is omdat afknouery en “selfhaat” al van kleins af begin en die invloed daarvan somtyds deur elke lewensiklus tot en met volwassenheid saamgedra word.

“Dit is belangrik dat kinders bewus moet wees dat elkeen anders lyk en uniek gemaak is. Ek wil hulle graag leer om lief te wees vir hul eie liggaam en dit met gesonde, nutriëntryke kosse te voed. Dit sal jou energievlakke, asook hoe jy oor jouself en ander voel, positief beïnvloed.”
“As Laerskool Muldersdrif wil ons graag ons leerders bewus maak van wat afknouery werklik beteken en om hulle ook aan te moedig om nie daaroor stil te bly nie. Leerders het ’n wanindruk van afknouery en word maklik slagoffers daarvan weens hul blootstelling aan moderne tegnologie en sosiale media. Daarom ondersteun ons AfriForum se teenboelieveldtog en waardeer hulle bereidwilligheid om saam met ons daarteen te veg,” sê Johané van Niekerk, ’n onderwyseres by die Laerskool Muldersdrif.

Stuur ’n e-pos na leandie.brasler@afriforum.co.za indien jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.
Klik hier om die bewusmakingsvideo te kyk.
Klik hier vir die teenboeliegids.

Soortgelyke plasings