|

AfriForum-teenboelieveldtogspan besoek Vaal Triangle Akademie (VTA) in Vanderbijlpark

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 8 Februarie  by die VTA Skool in Vanderbijlpark besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole. Dit is vir AfriForum belangrik om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan, daarom word elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, toegerus met die nodige vaardighede en kennis.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Skole moet ’n veilige hawe wees waar kinders kan floreer. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die kennis om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind. Die doel van hierdie praatjie is om leerders te bemagtig. Leerders leer ook die verskil verskil tussen boeliegedrag en konflik, asook die verskillende vorme wat boeliegedrag kan aanneem,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“VTA Skool se leerders het gedurende die eerste week van Februarie ’n boelievraelys ingevul en onderwysers, leerders en ouers het eerstehandse inligting versamel oor leerders wat geboelie word. By VTA glo ons vas dat ’n skool vir kinders ’n veilige omgewing moet skep wat boelie- en misdaadvry is sodat hulle kan floreer. AfriForum se gelukbringer, Matteus, het die leerders ook vertel van die wapenrusting en hulle geleer hoe om elke oggend hul eie wapenrusting aan te trek. Dit is belangrik om te leer hoe leerders voel sodat ons dadelik die regte maatreëls kan implementeer en dan is dit ook belangrik dat die leerders die belangrike les van ‘doen aan ander wat jy wil hê hulle aan jou moet doen,” sê Caren Potgieter, hoof van VTA Skool

“AfriForum doen ’n beroep op ouers en onderwysers om proaktief op te tree. Dit is jou werk as ouer om ’n oog oor jou kind te hou en na hulle te luister. Wees bewus! Dit is belangrik om na ons kinders se geestelike welstand om te sien. Hulle is immers die leiers van die toekoms,” sluit Bräsler af.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog besoek www.teenboelie.co.za en laai ons teenboeliegids gratis af.

Stuur ’n e-pos aan tania.scheepers@afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings