AfriForum-teenboelieveldtogspan en Matteus besoek Laerskool Fontainebleau


Die burgerregte-organisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan en Matteus het op 5 April 2019 besoek by die Laerskool Fontainebleau in Randburg afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders, onderwysers en ouers in. Dit is vir AfriForum belangrik om saam met hierdie rolspelers te werk en hulle te bemagtig om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan.

“Dit is vir ons belangrik dat leerders die verskil tussen konflik en boeliegedrag verstaan, asook om ingelig te wees oor wat hulle moet doen as hulle hulself in ’n boelievoorval bevind. Elke onderwyser het ’n plakkaat ontvang van die les wat met die leerders behandel is. Die veldtog wil leerders aanmoedig om op te staan vir wat reg is en om as leiers op te tree en enige vorm van afknouery te ontmoedig,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.
“Dit is vir ons uiters belangrik om ons leerders en ouers bewus te maak van afknouery in skole, sodat hulle sal weet hoe om hulself teen boelies te beskerm. Bewusmaking is ook noodsaaklik vir leerders wat moontlik oorweeg om hul eie lewe te neem as gevolg van hul blootstelling aan afknouery. Hierdie bewusmaking speel ook ’n belangrike rol in die boelie self se lewe – dit maak hulle oë oop vir die skade wat hulle in die samelewing kan veroorsaak,” sê Johan Kotze, onderwyser by die Laerskool Fontainebleau.

Stuur ’n e-pos na leandie.brasler@afriforum.co.za indien jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings