| |

AfriForum-teenboelieveldtogspan spreek 500-plus Lord Milner School-leerders toe

AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 17 Julie by die Lord Milner School in Settlers, Limpopo, besoek afgelê en 524 laerskoolleerders bereik. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

AfriForum bemagtig skole landwyd met dié veldtog vir die afgelope sewe jaar deur hoop te skep en om kinders aan te moedig om mekaar met die nodige wedersydse erkenning en respek te hanteer.

Volgens ’n 2023 akademiese joernaalartikel, “The profile of bullying perpetrators and victims and associated factors among high school learners in the Tshwane District, South Africa” in die International Journal of Environmental Research and Public health toon navorsing dat hoë vlakke van slagoffers wat onder boeliery gebuk gaan veral onder hoërskoolleerders val. Die vorme wat boeliery aanneem verskil van streke. In Suid-Afrika het die gerapporteerde voorkoms van slagofferskap met boeliery gewissel van 16,5% tot 75% en dié van die oortreder het gewissel van 3,9% tot 8.2%.

“Dit is dus belangrik dat leerders al van laerskooltyd af bemagtig word met die nodige kennis en vaardighede om boeliery te bekamp, want deur learskole te verander, kan ons in die toekoms ook hoërskole verander,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Dit is noodsaaklik om afknouery te verstaan want dit stel ’n mens in staat om die waarskuwingstekens raak te sien en emosionele skade aan die leerders te stop. Om bewus te wees van die uitwerking daarvan bevorder ’n ondersteunende en empatiese omgewing. Dit gee ons ook gereedskap om in te gryp en ’n respekvolle en vriendelike kultuur te bevorder,” sê Alta Hitchcock, hoof by Lord Milner School.

“Dit is vir AfriForum belangrik dat leerders die teenboeliepraatjie bywoon wat gebaseer is op die volle wapenrusting van God, omdat hulle dit kan gebruik om boeliegedrag hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Na afloop van die praatjie weet elke leerder hoe om boeliegedrag te identifiseer en hoe om dit stop te sit. Dit is van kardinale belang om leerders op ’n jong ouderdom met die vaardighede toe te rus om dus gevare in die toekoms te voorkom,” sê Tania Scheepers, AfriForum se projekassistent vir onderwys.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog en om die teenboelie- en kuberboeliegids gratis af te laai, besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings