|

AfriForum teleurgesteld in Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit

AfriForum en die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit het in September 2021 ’n ooreenkoms gesluit waarvolgens AfriForum die munisipaliteit met advies sal bystaan om die knellende probleme met water en sanitasie te help oplos. AfriForum het hulle deel van die ooreenkoms nagekom en die munisipaliteit van die nodige verslae en aanbevelings voorsien.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, is AfriForum egter teleurgesteld ná ’n vergadering wat op 21 Januarie plaasgevind het waar dit duidelik geword het dat geen van die voorstelle al geïmplementeer is of in die proses is om geïmplementeer te word nie.

Johan Kruger, AfriForum se hoof van gemeenskapsontwikkeling, spreek ook sy teleurstelling uit aangesien die gemeenskap van Parys steeds gaan gebuk gaan onder gereelde waterskaarste.  “Ons het reeds deurtastende vergaderings met die munisipaliteit gehad en die water- en rioolwerke op verskeie geleenthede besoek. Ons span kundiges het omvattende  aanbevelings en ’n veelsydige raamwerk vir ingrypings op die kort-, medium- en langtermyn aan die munisipaliteit oorhandig, maar geen implementering het nog plaasgevind nie,” sê Kruger.

“Die gebrek aan fondse en die wil om die verval die hoof te bied is uiters kommerwekkend. Ons het ’n finale vergadering met die munisipale bestuurder aangevra om die toedrag van sake en dringende aksie te bespreek”, verduidelik Kruger.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Parys” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings