AfriForum toets watergehalte in Limpopo-provinsie


AfriForum het die water in Phalaborwa, Louis Trichardt, Marble Hall, Nylstroom, Naboomspruit, Warmbad, Tzaneen, Pietersburg, Haenertsburg en Vaalwater in Mei 2017 getoets om die gehalte van dié dorpe se drink- en rioolwater te bepaal. 

“Ons het vasgestel dat die drinkwater in die provinsie skoon is en geen swaarmetale bevat nie. Daarbenewens voldoen bakterieë aan toepaslike standaarde. AfriForum sal die watergehalte deurlopend toets om die grondwetlike regte van dorpsbewoners te beskerm en seker te maak dat hulle van skoon drinkwater voorsien word,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se koördineerder vir Limpopo.

Die burgerregte-organisasie het egter sy kommer uitgespreek oor rioolwater wat nie aan die gestelde standaarde voldoen nie.

“Ons moet aandag aan rioolaanlegte gee. Ons kan nie toelaat dat munisipaliteite beamptes ons waterhulpbronne besoedel nie en ons is van plan om dit aan te spreek op grond van die mandaat wat deur inwoners aan ons gegee is,” sê Grobbelaar.

AfriForum se nasionale blou-en-groendruppelprojek fokus op die gehalte van dorpe se drinkwater en rioolaanlegte. Die projek fokus nie noodwendig op die toestand van die rioolaanleg nie, maar eerder op die watergehalte wat ná afloop van die proses as drinkwater (blou) of rioolwater (groen) vrygelaat word.

“Ons versoek die inwoners van dié dorpe om AfriForum die mandaat te gee om die dorpe se watergehalte deurlopende te moniteer. SMS jou dorp se naam na 45340 om dié projek te ondersteun. Elke SMS kos R1,” sluit Grobbelaar af.

Soortgelyke plasings