AfriForum toets watergehalte in Mpumalanga-Wes


AfriForum het die water in Witbank, Middelburg, Delmas, Secunda, Standerton, Bethal, Trichardt, Kinross, Evander, Charl Cilliers, Kriel, Greylingstad, Morgenzon en Balfour in Mei 2017 getoets om die gehalte van dié dorpe se drink- en rioolwater te bepaal. 

“Ons het vasgestel dat die drinkwater in die provinsie skoon is en geen swaarmetale bevat nie. Daarbenewens voldoen bakterieëvlakke aan toepaslike standaarde. AfriForum sal die watergehalte deurlopend toets om die grondwetlike regte van dorpsbewoners te beskerm en seker te maak dat hulle van skoon drinkwater voorsien word,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se streekskoördineerder vir Mpumalanga-Wes.

Die burgerregte-organisasie het egter kommer uitgespreek oor die rioolwater van Standerton, Morgenzon, Balfour, Bethal en Middelburg wat nie aan die gestelde standaarde voldoen nie.

“Ons moet aandag aan rioolaanlegte gee. Ons kan nie toelaat dat munisipale beamptes ons waterhulpbronne besoedel nie en ons is van plan om dit aan te spreek op grond van die mandaat wat deur inwoners aan ons gegee is,” sê Coetzer.

AfriForum se nasionale blou-en-groendruppelprojek fokus op die gehalte van dorpe se drinkwater en rioolaanlegte. Die projek fokus nie noodwendig op die toestand van die rioolaanleg nie, maar eerder op die watergehalte wat ná afloop van die proses as drinkwater (blou) of rioolwater (groen) vrygelaat word.

“Ons versoek die inwoners van dié dorpe om AfriForum die mandaat te gee om die dorpe se watergehalte deurlopende te moniteer. SMS jou dorp se naam na 45350 om dié projek te ondersteun. Elke SMS kos R1,” sluit Coetzer af.

Soortgelyke plasings