AfriForum Trauma-slagofferondersteuningseenheid

Die AfriForum Trauma-slagofferondersteuningseenheid lewer ’n baie unieke en persoonlike diens aan die slagoffers van geweldmisdaad en fokus veral op slagoffers van plaasaanvalle.

Die eenheid bestaan sedert 2015 en het sedertdien uitgebrei weens die tempo waarteen misdaad en veral plaasaanvalle in die land toeneem.

Kontaksessies met slagoffers is van kardinale belang en daarom staan lede van die eenheid slagoffers van plaasaanvalle landwyd by deur die aanbied van emosionele en praktiese ondersteuning, terwyl bystand ook aan die slagoffers se families gelewer word. Lede van die eenheid reis na die slagoffers en maak seker dat die slagoffers ondersteuning in ’n veilige en beskermde omgewing ontvang. Die emosionele ondersteuning wat gebied word is om te help om die traumatiese impak en skok van die misdaad te verlig, asook om sekondêre viktimisering te voorkom.

Lede van die eenheid wat voorheen by die SAPD werksaam was gebruik ook hul vaardighede om te help om slagoffers se beëdigde verklarings af te neem in die voorkeurtaal van die slagoffer en handig dit dan by die SAPD in vir nadere ondersoek. Misdaadslagoffers word ook deur lede van die eenheid bygestaan deur hulle na uitkenningsparades te vergesel. Voorbereiding en bystand van slagoffers tydens hofsake is ook ’n diens wat die eenheid se lede bied. Lede fokus op die respekvolle en empatiese hulpverlening aan misdaadslagoffers aangesien die slagoffers reeds aan geweldige trauma blootgestel is. Inligting rondom ’n slagoffer se persoonlike veiligheid, grondwetlike regte, ondersoek- en hofprosedure word ook met die slagoffer gedeel.

Die eenheid is ook besig met ’n nuwe opleidingsprojek en is in proses om opleidingsmateriaal te skryf, waarna kursusse aan vrywilligers, plaaswagte en diegene wat by veiligheidsprojekte betrokke is aangebied gaan word sodat slagoffers onmiddellik bygestaan kan word. Dit is belangrik om netwerke op grondvlak vir traumaslagoffers te vestig omrede die eenheid se lede nie oral kan wees nie en ’n onmiddellike diens aan slagoffers gebied wil word.

Lede van die eenheid staan slagoffers by om hierdie moeilike gebeurtenis te probeer verwerk en weer die stukke van hul lewens op te tel. Elke slagoffer is uniek en daarom word ’n pad met elke slagoffer gestap volgens die slagoffer se unieke behoeftes. Indien nodig word die slagoffer na professionele konsultasie verwys.

Indien jy meer inligting oor die eenheid verlang of traumaverwante navrae het, stuur ’n e-pos na trauma@afriforum.co.za.

Skakel AfriForum 911 Trauma-eenheid by 012 880 1954 vir meer inligting of om skenkings te maak.

Maak ’n donasie vir die traumafonds deur die onderstaande bankbesonderhede te gebruik:

Rekeningnaam: AfriForum NPC
Rekeningnommer: 623 4989 8398
Taknaam: FNB Centurion
Takkode: 261-550
Verwysing: Trauma

Soortgelyke plasings