| |

AfriForum tree in ná Ekurhuleni Metro krag na sentrum vir gestremdes sny

AfriForum het op 4 April 2022 ’n skrywe aan die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit gerig waarin die organisasie versoek het dat die elektrisiteitstoevoer na die Vita Nova-sentrum dringend weer aangeskakel moet word. Dit volg nadat die Metro die kragtoevoer na dié sentrum, wat 122 gestremdes versorg, op 28 Maart afgesny het omdat die sentrum glo ’n agterstallige rekening het. Die sentrum se finansiële krisis is deur Gauteng EMS (Emergency Medical Services) veroorsaak wat hulle totale agterstallige rekening moet betaal. 

“Die finansiële krisis wat die sentrum tans ondervind, is veroorsaak deur die provinsiale regering (Gauteng EMS) wat nie die huur betaal het vir die gebruik van sentrumfasiliteite nie. Dit is werklik jammer dat hierdie kwesbare gemeenskap nou onder die finansiële wanbestuur van ’n staatsentiteit moet ly. In die skrywe aan die Metro versoek AfriForum dat die kragtoevoer so gou as moontlik hervat moet word en dat ’n betalingsooreenkoms in plek gesit moet word. Indien die kwessie nie deur middel van die skrywe en gesprekke opgelos kan word nie, sal AfriForum geen ander keuse hê as om regstappe te oorweeg nie,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van Plaaslikeregeringsake, meen dat die Metro ’n redelike besluit moet neem ten opsigte van die invordering van agterstallige skuld. “As dit nie vir die laksheid van die provinsie was nie, sou die sentrum nie in hierdie gemors gesit het nie. Ons voel sterk dat die Metro hulle besluit om die sentrum se krag dadelik af te sny moet heroorweeg.”

AfriForum het ook versoek dat ’n dringende gesprek tussen die partye moet plaasvind sodat ’n langtermynoplossing gevind kan word.

Soortgelyke plasings