|

AFRIFORUM TREE TOE TOT REGSGEDING; BURGERS SE STEMREG MOET BESKERM WORD

Die burgerregteorganisasie AfriForum gaan toetree tot die regsgeding oor die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se aansoek om die plaaslike verkiesing later vanjaar uit te stel. AfriForum het ’n regsmening bekom oor die meriete van die OVK se aansoek.  

Glen Mashinini, voorsitter van die OVK, het tydens ’n mediakonferensie vandag bevestig dat die aansoek na die Konsitusionele Hof op alle politieke partye beteken sal word en dat alle stukke op die OVK se webtuiste beskikbaar sal wees.  

“Uiteraard gaan ons die inhoud van die aansoek oorweeg en ons stukke dienooreenkomstig aanpas. Chaos heers in munisipaliteite, en die Grondwet maak voorsiening vir gereelde verkiesings sodat burgers die samestelling van die munisipale raad kan verander,” sê Morné Mostert, AfriForum se bestuurder vir plaaslikeregeringsake. “Ons glo dat die inwerkingstelling van die regte maatreëls dit moontlik maak dat die verkiesing veilig en binne die raamwerk van die Grondwet kan voortgaan.” 

Die OVK het ook ’n gewysigde kalender aangekondig om te verseker dat dit aan die verpligtinge voldoen om op 27 Oktober met die verkiesing te kan voortgaan. 

“AfriForum sal voortgaan om ons 155 takstrukture op voetsoolvlak voor te berei en te mobiliseer om as verkiesingswaarnemers deel te neem. As burgerregtewaghond maak ons ook seker dat burgers se stemreg beskerm word. Dit is vir ons ook belangrik om nie net te let op die verkiesingsreëls wat nagekom moet word nie, maar ook die toepassing van COVID-19-maatreëls om te verseker dat mense veilig kan gaan stem.”  

Die Grondwet en die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture 117 van 1998 is dit eens dat munisipale rade se ampstermyn nie oor langer as vyf jaar mag strek nie. Boonop moet die OVK ’n verkiesing hou binne 90 dae ná die verstryking van dié vyfjaartermyn. “Dit blyk dat die Grondwet se bepalings hieroor gebiedend is en daar min – indien enige – beweegruimte vir ’n hof is om ’n uitstel van die verkiesing tot ná 3 November 2021 toe te laat,” sluit Mostert af.   

Soortgelyke plasings