|

AfriForum-tydskrif propvol nuus op pad na duisende lede

Forum Tydskrif, die burgerregte-organisasie AfriForum se ledetydskrif, is op pad na ons derduisende lede!

Wat ’n jaar was 2017 nie? Elkeen van ons sal dit waarskynlik om verskillende redes onthou.

Vir AfriForum was dit ’n mylpaaljaar waarin die 200 000 ledetal bereik is.

Dít het ons in staat gestel om met die hulp en steun van ons lede harder en vinniger te werk aan oplossings vir die talle uitdagings wat minderhede, en spesifiek Afrikaners, in die gesig staar.

In hierdie uitgawe word lig gewerp op die tientalle projekte, veldtogte en aksies wat die organisasie op nasionale en plaaslike regeringsvlak aangepak het. Die kwessie van plaasmoorde is opnuut nasionaal en internasionaal in die kollig geplaas met suksesvolle optogte wat gehou is om die regering tot verantwoording te roep om dié misdade te prioritiseer.

Vullisterreinoudits is en gedoen en meer as duisend bome is landwyd geplant. Op grondvlak het AfriForum se meer as 100 takke groot sukses behaal om mense se lewensomstandighede in dorpe en stede te verbeter. Buurtwagte en veiligheidsnetwerke is ook uitgebrei en verskeie misdadigers is met die hulp van AfriForum aangekeer.

Die privaat vervolgingseenheid het ook vanjaar van krag tot krag gegaan met adv. Gerrie Nel wat aangekondig het dat Duduzane Zuma, president Jacob Zuma se seun, die eerste persoon is wat die eenheid privaat gaan vervolg. Dié vervolging spruit uit die voorval waarby Zuma in 2015 betrokke was toe ’n jong vrou in ’n ongeluk gesterf het. Onlangs is ook aangekondig dat adv. Nomgcobo Jiba, geskorste adjunkdirekteur van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), ook op strafregtelike klagtes van bedrog en meineed privaat vervolg gaan word.

In hierdie laaste uitgawe van Forum, gee dr. Frans Cronjé, scenariobeplanner by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, en Magnus Heystek, beleggingskenner, ook ’n oorsig van wat Suid-Afrikaners op politieke en ekonomiese gebied in die nabye toekoms te wagte kan wees.

Albei is dit eens dat Afrikaners hulself toenemend op velerlei terreine sal moet beskerm en organiseer. Hulle sal beheer oor hul eie veiligheid, gemeenskappe en lewens moet neem ten einde vir hulself ’n beter toekoms te bewerkstellig.

Die vestiging en uitbreiding van meer netwerke waar Afrikaners en Afrikaanssprekendes mekaar se hande ten opsigte van talle uitdagings sterker kan maak, is ook deur hulle uitgewys.

Aan die einde van die jaar, is die boodskap dus helder en duidelik. As minderheid kan en moet ons vir onsself opstaan, beding én skouer aan die wiel sit om vir ’n beter en volhoubare toekoms te werk. Daarom rig ons opnuut ’n uitnodiging aan diegene wat in hierdie ideaal deel om by AfriForum aan te sluit sodat die organisasie nog sterker kan word om nog meer met lede se hulpbronne te kan doen. Dit is alleen deur saam te staan en saam te werk, dat dit moontlik is om ’n wesenlike verskil te maak.

AfriForum wens almal ’n geseënde Kersfees en voorspoedige nuwe jaar toe.

Soortgelyke plasings