AfriForum Vaalharts en SAPD beklink hulle samewerking

Die Vaalharts AfriForum-tak het op Vrydag, 17 Februarie 2017, hulle samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Hartswater bevestig. Dit nadat ’n afskrif van die samewerkingsooreenkoms wat op 17 Januarie 2017 tussen AfriForum en die SAPD (nasionaal) in Centurion gesluit is, aan kaptein Matlhako, wat instaan vir die plaaslike stasiebevelvoerder, oorhandig is.

“Die ooreenkoms het ten doel om kommunikasie tussen AfriForum en die SAPD te versterk. AfriForum-buurtwagte sal ook voortaan ’n erkende rolspeler wees in die verbetering van veiligheid en om gemeenskapsamewerking in die bekamping van misdaad aan te moedig,” sê Linja van Wyk, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap.

“Dit is verblydend om te sien dat die SAPD bereid is om met AfriForum-buurtwagte hande te vat en ons by te staan met ons projekte en inisiatiewe,” sê Theo Joubert, voorsitter van die AfriForum Vaalharts-tak.

Soortgelyke plasings