AfriForum vat minister aan oor visspesies in Tsitsikamma Nasionale Park


AfriForum het vandag ’n dokument aan Edna Molewa, die minister van omgewingsake, gestuur waarin die organisasie kommer oor die toekoms van die Tsitsikamma mariene bewaringsgebied (TMBG) uitspreek. AfriForum is ook gereed om regsaksie in dié verband te neem.
Dit volg nadat die minister op 19 Desember 2016 besluit het om 20% van dié bewaringsgebied in die Tsitsikamma Nasionale Park oop te stel vir vissery. Tot op hede het die departement nog geen rasionaal vir hierdie besluit gegee nie.

“Die TMBG is die oudste bewaarde maritieme gebied in die wêreld en verskaf ’n unieke habitat vir bedreigde en uitgebuite visspesies. Dit is ook een van die grootste broeigebiede vir visse en van hierdie spesies is endemies. Suid-Afrika steek reeds af by ander lande wat bewaarde maritieme parke aanbetref. Navorsing toon dat akwatiese fauna ernstig beskadig kan word as selfs die kleinste visseraktiwiteite hier toegelaat word,” sê Chris Boshoff, AfriForum se koördineerder vir omgewingsake.

AfriForum vereis in die dokument dat die minster:

  • indien enige gebied se status as bewaarde gebied weggeneem word, ’n proporsionele uitbreiding in terme van habitat en wetenskaplike bewaringsdoelwitte sal aanwys om diesulke gebied te vervang.
  • ’n volledige verduideliking sal gee, insluitend die voorsiening van wetenskaplike bewyse, vir die besluit om ten spyte van sterk publieke teenkanting vissery in die TMBG toe te laat.

AfriForum se standpunt is dat die voorgestelde sones wat vir vissery oopgestel is ’n negatiewe impak op mariene ekosisteme in die TMBG sal hê. Talle marienebioloë meen dat die minister nie wetenskaplike bewyse in ag geneem het toe sy haar besluit geneem het nie. Binne 30 dae nadat die gebied vir vissers oopgestel word, kan daar reeds ’n negatiewe impak verwag word. Broeivisse sal gevang word en dit gaan plaaslike inwoners op die langtermyn benadeel.
Volgens ’n verslag van die Wêreldnatuurfonds (WWF-SA) sal die toelating van selfs beperkte visseraktiwiteite in die TMBG lei tot ’n 16%-afname in besoekers wat jaarliks sowat R4,7 miljoen vir die gebied inbring. Dit sal ook ’n negatiewe impak op kleinskaalse kommersiële visserye en ontspanningshengelaars hê wat tans in aangrensende gebiede visvang.
AfriForum staan die besluit teen as gevolg van verskeie omgewingsimpakte wat in die aangehegte verslag vervat word.
SMS jou naam na 45354 om die petisie te ondersteun (R1).

Soortgelyke plasings