|

AfriForum veg en bou in Kempton Park

Die AfriForum-tak in Kempton Park het die organisasie se #VegEnBou-week op Vrydag 11 September 2020 afgeskop, en taklede en vrywilligers het verskeie opheffingsprojekte van stapel gestuur.

Die Kempton Park-tak en die jeugportefeulje van AfriForum se Oos-Moot-tak het op 12 September opknappingswerk by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Kempton Park gedoen. Die lede het buitebande geverf en plantjies daarin geplant; hulle het ook plaveisel van 12,5 m2 gelê en ’n afdak afgebreek. Die tak het ook sowat 500 kg hondekos aan dié DBV-tak geskenk.

Die Kempton Park-tak se jeugportefeulje het op 14 September opknappingswerk as deel van hul uilhuisprojek verrig. Dié projek is reeds in 2019 van stapel gestuur en vyf uilhuise is reeds opgerig. As deel van AfriForum se boomplantmaandprojek is ’n karee by die uilhuise geplant. Dié boom is deur Schubert Landscape geskenk.

Die tak het ook op 15 September ’n mobiele gesondheidsentrum geopen, wat ’n reuseverskil gaan maak in die lewens van inwoners wat nie gereelde toegang tot mediese sorg het nie. 46 bejaardes van die Linitas-tehuis het op die eerste dag reeds van die gesondheidsentrum se dienste gebruik gemaak. Dié sentrum sal basiese mediese dienste lewer, soos om pasiënte se bloeddruk te neem en hul cholesterol- en bloedsuikervlakke te toets. ’n Span verpleegkundiges wat oor jare se ervaring beskik, gaan vrywilligerwerk verrig. Boonop het aptekers en dokters ook reeds aangedui dat hulle betrokke wil raak. Die tak het ná die loodsing van die mobiele gesondheidsentrum ’n gesondheidsprojek in samewerking met die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens aangebied.

Die tak het as deel van AfriForum se nasionale blou-en-groendruppelprojek watertoetse gedoen, waarvan die uitslae later vanjaar bekendgemaak sal word.

Ná volgehou druk en skrywes aan die Ekurhuleni Metro kon die tak daarin slaag om die Highveld-oorlaaistasie te laat skoonmaak. Die Kempton Park-tak bedank die Metro hiervoor, maar sal steeds water- en sanitasieprobleme by die oorlaaistasie by die munisipaliteit aanmeld. Ongeveer 500 onwettige plakkate is van lamppale en stoptekens verwyder, en die tak ook 26 slaggate in Kempton Park herstel.

Die #VegEnBou-week is afgesluit met die inoefen van ’n veiligheidsplan waarby verskeie rolspelers betrokke was. Twee hommeltuie is ook tydens die oefening gebruik.

“Ons wag nie vir iemand om ons probleme op te los nie. Ons glo daarin om self in te gryp en ons hande vuil te maak,” sê Jan Vermaak, voorsitter van AfriForum se Kempton Park-tak.

“Dié projekte en aksies is moontlik gemaak deur AfriForum se Kempton Park-taklede, wat alles met ’n positiewe gesindheid aangepak het. Hulle neem eienaarskap en verantwoordelikheid vir hul gemeenskap en omgewing, en dit is wat tot die sukses van hierdie week bygedra het,” sê Stephanus (Butch) Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Raak by hierdie aktiewe AfriForum-tak betrokke en word deel van die verskil: SMS “Kempton Park” na 45342 (R1) om by dié tak aan te sluit.

Soortgelyke plasings