| |

AfriForum veg in hof om KZN-regering te dwing om skool vir Nkungumathe-gemeenskap in Nkandla te bou


 
Die hofsaak waarin AfriForum se regspan namens die Mpungose- tradisionele raad en die Nkungumathe-gemeenskap optree om die KwaZulu-Natalse onderwysdepartement te dwing om ’n skool in dié gemeenskap te bou, is vandag in die KwaZulu-Natalse hoë hof in Pietermaritzburg aangehoor. Uitspraak is voorbehou.
Volgens AfriForum het die KwaZulu-Natalse onderwysdepartement by ten minste tien geleenthede die Nkungumathe-gemeenskap beloof dat ’n skool in hul gemeenskap in die Nkandla-distrik gebou sal word. Die departement het egter sonder om met die gemeenskap in gesprek te tree, eensydig besluit om sy beloftes te verbreek en nie ’n skool te bou nie. Die Mpungose- tradisionele raad en die Nkungumathe-gemeenskap het in Februarie 2017 verneem dat die skool nie meer gebou sal word nie en het derhalwe besluit om AfriForum om hulp te nader. AfriForum se hofsaak het ten doel om die KwaZulu-Natalse onderwysdepartement se besluit om nie ’n skool te bou nie ter syde te laat stel en hulle te dwing om die skool te bou wat hulle aan die Nkungumathe-gemeenskap belowe het.
Volgens Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum, word die behoefte aan ’n nuwe skool bevestig deur die feit dat daar tans sowat 65 leerlinge per klas in die omliggende skole is. Dit is veel meer as die nasionale norm van 40 leerlinge per klas. Bloem wys daarop dat die situasie vererger word deurdat sommige kinders van die Nkungumathe-gemeenskap sowat 15 km te voet moet aflê om by die skool te kom. Die bestaande skole het volgens Bloem ook nie genoeg handboeke en skoolbanke om al die kinders te akkommodeer nie.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat AfriForum reeds etlike Afrikaanse skole met regshulp bygestaan het om gehaltemoedertaalonderrig te beskerm, en hy glo dat kinders van die Nkungumathe-gemeenskap in Nkandla se regte op ’n soortgelyke grondslag beskerm moet word. “Dit is ’n skande dat die staat bereid was om miljoene rande aan voormalige president Jacob Zuma se huis in Nkandla te bestee, terwyl kinders in dieselfde distrik weens ’n gebrek aan toegang tot ’n skool moet ly. AfriForum sal onbeskaamd teen dié onreg veg,” sê Kriel.
Volgens Kriel is AfriForum se hulp aan die Nkungumathe-gemeenskap ’n voortsetting van AfriForum se uitgangspunt dat gesonde samewerking op grond van wedersydse erkenning en respek tussen Suid-Afrika se onderskeie gemeenskappe bevorder moet word. “AfriForum se samewerking met die Nkungumathe-gemeenskap geskied in dieselfde gees as die voorgestelde samewerking tussen AfriForum en koning Goodwill Zwelithini,” sê Kriel.

Fikile Magubane, ’n ouer en lid van die Nkungumathe-gemeenskap se taakspan wat gestig is om ʼn skool te bekom, sê sy voel sterk daaroor dat haar kind toegang tot gehalte-onderrig moet hê en dat die bou van ’n skool noodsaaklik is om dit te verseker. Magubane sê dat sy en haar gemeenskap dankbaar is om op ’n basis van wedersydse erkenning en respek met AfriForum tot voordeel van die gemeenskap se kinders te kan saamwerk.
Sien video deur Forum Nuus: https://forumnuus.co.za/afriforum-reik-uit-na-nkandla-gemeenskap
https://www.youtube.com/watch?v=aoFfD6XR1DA

Soortgelyke plasings