|

AfriForum #VegEnBou in die Kaapse metro

Verskeie projekte is onlangs in die Kaapse metro aangepak as deel van AfriForum se #VegEnBou-week om dié area skoon te maak en te verbeter vir sy inwoners. Daar is onder meer instandhoudingswerk by die Kasteel die Goeie Hoop gedoen en sowat 40 bome is in dié week geplant.

AfriForum se Helderbergkom-tak het op 16 Oktober die week afgeskop  met ’n skoonmaakprojek in die groenstrook langs die Summervale-aftreeoord in Gordonsbaai. Dié strook strek vanaf Lemoenboomstraat tot Dennehofstraat en is in samewerking met Xolf Consulting Services skoongemaak.

Op 19 Oktober het die tak Securerite Security in Somerset-Wes verras met middagete en buurtwaglede in die Helderbergkom het veiligheidsopleiding in regsaspekte ontvang.

Die tak het op 20 Oktober bejaardes by die Ons Plek-gemeenskapsentrum bederf met lekkernye, handmasserings en komberse. in samewerking met Solidariteit Helpende Hand en Helderberg School of Beauty.

AfriForum se Kaapstad-Noord-tak het op 21 Oktober instandhoudingswerk by die Kasteel van Goeie Hoop in die Kaapse middestad gedoen. Onkruiddoder is teen die mure gespuit, onkruid en jong bome is uit die buitemure verwyder en vullis is uit die kanaal gehaal.

“Die instandhoudingswerk by die Kasteel die Goeie Hoop is die begin van ’n opwindende volhoubare projek om te verseker dat ons ‘n deel van ons erfenis vir die nageslag bewaar,” sê Johardt van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

Op 22 Oktober het die Kaapstad-Noord-tak die Uitspan Pospark in Durbanville skoongemaak deur vullis op te tel en weg te ry. Die tak het daarna die eiland in Jip de Jagerrylaan met onkruiddoder gespuit.

Die tak het op 23 Oktober die #VegEnBou-week op ’n hoë noot afgesluit deur 35 spekbome en 5 geelhoutbome saam met die voormalige Binnelanders aktrise, Pascal Pienaar, te plant en gehelp om die vooraansig van die Oom Vossie-Voortrekkersaal in Bellville te verf.

“Dié projekte is moontlik gemaak deur vrywilligers en taklede wat alles met ’n positiewe gesindheid aangepak het. Hulle neem eienaarskap en verantwoordelikheid vir hul gemeenskap en omgewing en dit is wat tot die sukses van hierdie aksies bygedra het,” sluit Van Heerden af.

Raak by hierdie aktiewe AfriForum-takke betrokke en word deel van die verskil: SMS jou dorp se naam na 45265 (R1).

Soortgelyke plasings