|

AFRIFORUM #VEGENBOU MET ’N LIED IN DIE HART IN 2021

Deur Alet Rademeyer

In 2021 gaan AfriForum sy Veg-En-Bou-plan aansienlik verskerp om ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir Afrikaners aan die suidpunt van Afrika te verseker.

Verlede jaar was ’n onstuimige jaar, maar AfriForum kon steeds daarin slaag om te groei. AfriForum het daarin geslaag om sy posisie as leidende rolspeler in die stryd vir Afrikaners en minderhede se vryhede te versterk, sê Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum.

Roets sê in die lig van versnelde staatsverval moet die Veg-En-Bou-strategie verskerp word.

“In dié jaar sal die burgerregte-organisasie vir geregtigheid teen agteruitgang veg, terwyl daar ook op voetsoolvlak alternatiewe werklikhede geskep word wat dit vir ons gemeenskappe moontlik maak om met ’n groeiende mate van selfstandigheid en selfbestuur na ons eie belange om te sien.”

Meer inligting sal binnekort oor AfriForum se Veg-En-Bou-plan vir 2021 bekendgemaak word.

Die plan maak reeds baie gemeenskappe opgewonde en het MD Greyling, sanger en omroeper by Pretoria FM, geïnspireer om ’n Veg-En-Bou-lied vir AfriForum te skryf. Dit word vanoggend amptelik vrygestel en kan geluister word by https://www.youtube.com/watch?v=CCfif0rHLwA&feature=youtu.be

Volgens Greyling het die idee vir die lied ontstaan oor die kontraste wat hy tans in die land beleef. “Aan die een kant beleef ek swaarkry, moedeloosheid, geweld, plaasmoorde, korrupsie, werkloosheid en nog baie ander dinge wat my daagliks omkrap. Aan die ander kant sien ek organisasies soos AfriForum en individue wat hoop het. Mense wat glo dat daar ’n beter toekoms is en dat daardie toekoms in ons eie hande lê.”

Greyling sê die lirieke kom diep uit sy hart. “Gedagtes rondom Veg-En-Bou maal al lank deur my kop. Om in die jaar 2020/21 vir Jan van Riebeeck te wil blameer vir alles wat verkeerd is, is totaal absurd. Ek verwys spottenderwys daarna in die lied.

“Ek glo ons moet eerlik oor dinge praat sonder om skuldig te voel oor wie en wat ons is. Ek is trots op my kultuur en herkoms en leef dit ten volle uit.

“Ek hoop dat die lied mense sal inspireer om weer trots te wees en in te spring en te werk en om ’n voorbeeld vir ander te wees.”

Die lirieke van die Veg-En-Bou-lied

Staan weer op

Staan weer op in wat jy glo en wie jy is met krag van Bo

Wees net jy

Wees die man vir jou gesin die pa of ma wat hul verdien

Doen die beste wat jy kan al is dit min al wil jy val

Sê jou sê

Praat oor als wat jou nog pla want hoeveel kan ons nog verdra

Doen jou deel

Doen net dit waarin jy glo net wat jy voel jou hart verloor

Vir ons kinders en ons land en die belofte anderkant

Jy kan breek ons sal bou

Jy kan vat ons sal hou

Jy kan brand net wat jy wil, ons kies werk ons kies verskil

Jy kan skree ons sal leer

Jy kan buig dan sê ons nee

As ek buig, buig ek voor Hom want Hy is groot ek staan verstom

Ek sal my laaste asem hier in terug ploeg want ek weet nou waar ek vandaan kom

En ek sal dit – ek sal dit nie verloor

Jy sal nie vat waarin ek glo

Sê vir Jan

Sê vir Jan hy kan ontspan want als is werklik nie sy skuld

Hou aan glo, hou aan glo ons was al hier en ons het sterker uitgekom

Ons sal weer jy kan probeer sal aanhou veg en bou en leer.

Soortgelyke plasings