AfriForum-veiligheidstrukture in Hessekwa en SAPD behaal groot sukses


AfriForum se Gou-Kou-plaaswag en Riversdal-buurtwag het op 12 Mei 2019 in samewerking met die SAPD ’n groot sukses in die Hessekwa-gebied behaal deur vyf verdagtes te arresteer. Dié verdagtes is gesoek vir verskeie misdade, waaronder diefstal van sonpanele en batterye by selfoontorings.

Omstreeks 18:30 het ’n lid van die plaaswag kennis ontvang van ’n voertuig – wat aan die misdade gekoppel is – wat deur ’n kamera in die gebied opgemerk is. AfriForum se veiligheidstrukture is onmiddellik geaktiveer om op die uitkyk vir die voertuig te wees, waarna die SAPD ook ontbied is. Die vermoede het ook bestaan dat nóg ’n voertuig by die misdade betrokke is. Albei voertuie is kort daarna deur die SAPD afgetrek en die insittendes is gevolglik gearresteer en na die Riversdal-polisiekantoor geneem vir verdere ondervraging.
Die SAPD het ook beslag gelê op 20 diepsiklusbatterye wat in een van die voertuie gevind is.

“Hierdie is ’n uitstekende voorbeeld van hoe die gemeenskap en die SAPD hande vat om misdaad in die gebied hok te slaan. Ek wil graag dankie sê aan die SAPD vir hul spoedige en flinke optrede en ook aan elke plaaswag- en buurtwaglid wat hul tyd opgeoffer het,” sê Johan Crous, voorsitter van die veiligheidsportefeulje van AfriForum se Hessekwa-tak.

Raak vandag nog deel van AfriForum se veiligheidstrukture: SMS “Veilig” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings