|

AfriForum veiligheidstrukture spoor gekloonde voertuig binne ure op

Die AfriForum-buurtwag in Hluhluwe het gister in samewerking met Alpha Sekuriteit, binne ure ’n motor met ’n gekloonde lisensieskyf opgespoor.

Dit het gevolg ná AfriForum se hoofkantoor ’n navraag ontvang het van ’n lid van die publiek. Die persoon sukkel al sedert Februarie vanjaar om haar motorvoertuiglisensie te laat hernu. Volgens die verkeersdepartement is haar voertuig onder iemand anders se naam geregistreer.

Dit is ’n algemene verskynsel dat gesteelde voertuie op slinkse maniere herregistreer word en die lisensieskyf van ’n soortgelyke motor, wat wettig geregistreer is, dan gekloon word. Die gesteelde voertuie kan dan weer gebruik word sonder dat die lisensie of nommerplaat gekoppel kan word aan ’n gesteelde voertuig.

AfriForum het inligting ontvang dat die gekloonde voertuig in KwaZulu-Natal opgemerk is en het sy plaaslike veiligheidstrukture sowel as Alpha Sekuriteit genader om die voertuig op te spoor. Die voertuig is binne ure opgespoor en die plaaslike polisie is in kennis gestel waarna die voertuig geskut is.

Die voertuig met die gekloonde lisensieskyf is in 2021 in Pretoria as gesteel aangemeld.

“Dit gaan my verstand te bowe dat ons gemeenskapsveiligheidstrukture en ’n privaat maatskappy binne ure kon werk maak van die probleem, terwyl wetstoepassers al vir maande sloer. Hulle advies aan die slagoffer, was om eerder maar net nie haar voertuig te gebruik tot die saak opgelos is nie,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogtebestuurder.

Die slagoffer, wat verkies om anoniem te bly, sê: “Baie dankie, AfriForum, dat julle ons lewe soveel makliker maak. Sonder julle hulp sou ons waarskynlik nooit weer ons motor se lisensie kon hernu nie en ons sou elke oomblik wat een van ons die motor gebruik in vrees moes lewe dat die bestuurder enige oomblik gearresteer kan word. Dankie dat julle help om wet en orde in die land te handhaaf. Ons kan maar net droom dat ons staatsinstellings dalk eendag weer amper so effektief sal wees.”

“Hierdie sukses dui net weereens daarop dat die sleutel tot veilige gemeenskappe in die hande van goed georganiseerde burgerlike strukture lê,” sluit Broodryk af.

Sluit aan by jou naaste AfriForum-buurtwag by www.afriforumbuurtwag.co.za

Soortgelyke plasings