AfriForum in Velddrif skep hoop deur bome te plant


Die AfriForum-tak in Velddrif het in September 15 bome as deel van dié burgerregte-organisasie se boomplantmaand geplant.
Volgens Deon de Jager, AfriForum se distrikskoördineerder in die Boland, beoog die organisasie om vanjaar meer as 2 000 bome landwyd te plant.

“Deur inheemse bome te plant, is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar en ’n mooier omgewing te skep om in te bly nie, maar wys ons ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n natuurlike hulpbron waarsonder niemand sal kan oorleef nie – dit is ook deel van ons erfenis,” sê De Jager.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n boomspesie wat algemeen voorkom as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus latifolius), terwyl die skaars boom die grootwitgat (Boscia albitrunca) is. AfriForum moedig dorpe landwyd aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Vir Velddrif het ons inheemse bome gekies wat goed in die area aard en het op Kaapse essenhout (Ekebergia capensis), witstinkhout (Celtis africana) en olienhoutbome (Olea europaea) besluit. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Velddrif onderneem om hierdie sorg te verskaf,” sê De Jager.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by die veldtog betrokke te raak en deel te word van ’n beter en groener toekoms.

Soortgelyke plasings