| |

AfriForum verduidelik waarom privaat sekuriteit en privaat mediese dienste steeds as noodsaaklik geklassifiseer moet word

AfriForum het vandag aan die Noodsaaklikedienstekomitee (gestig ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge, No. 66 van 1995) verduidelik waarom privaat sekuriteit en privaat mediese dienste steeds as noodsaaklike dienste geklassifiseer moet word kragtens dié wet. Dít volg nadat die komitee gestig is om ’n ondersoek te loods na die vraag of hierdie dienste noodsaaklik behoort te wees. Die burgerregteorganisasie het ook twee regsmenings in hierdie verband aan die komitee gestuur.

Artikel 213 van die Wet op Arbeidsverhoudinge definieer ’n noodsaaklike diens onder meer as ’n diens wat, sou dit onderbreek word, die lewe, persoonlike veiligheid of gesondheid van die hele of ’n deel van die bevolking in gevaar sal stel. Sou hierdie privaat dienste nie as noodsaaklik geklassifiseer word nie, sal dit onder meer beteken dat werknemers in hierdie industrieë mag staak en daardeur burgery, wat op die werking daarvan staatmaak, se lewens in gevaar stel.

“Suid-Afrikaners steun swaar op privaat sekuriteitsdienste weens die land se hoë misdaadsyfer en die SAPD se onvermoë om betyds by ’n misdaadtoneel aan te kom, wat onder meer deur die gebrek aan hulpbronne en mannekrag veroorsaak word. Die blote gedagte dat privaat sekuriteitsdienste nie as ’n noodsaaklike diens geag word nie, is verregaande. Burgers se lewens hang letterlik daarvan af,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir Gemeenskapsveiligheid.

Volgens Natasha Venter, bestuurder van Veldtogte by AfriForum, is die organisasie bekommerd dat die regering deur hierdie ondersoek beoog om die implementering van die ondeurdagte Nasionale Gesondheidsversekeringskema deur te druk deur privaat mediese dienste onregverdig te benadeel.

“Nie net sal dit ongrondwetlik wees om privaat mediese dienste nié as noodsaaklike dienste te bestempel nie, dit sal ook menselewens in onnodige gevaar stel. Dit is tog ondenkbaar dat die regering kan onderskei tussen wie se lewens beskermingswaardig is en wie nie. Deur privaat mediese dienste nie as ’n noodsaaklike diens te klassifiseer nie, sal dit presies wees wat die regering doen. AfriForum kan nie toelaat dat die regering pasiënte wat privaat mediese behandeling kry op hierdie manier te na kom nie, veral omdat staatshospitale as gevolg van die regering se wanbestuur in ’n haglike toestand is,” sluit Venter af.

Soortgelyke plasings