|

AfriForum vergader met administrateurs oor gebrekkige dienslewering in Pretoria

AfriForum het op 11 Augustus 2020 met die Tshwane-metro se administrateurs vergader oor die skrywes wat die organisasie onderskeidelik op 28 Julie en 5 Augustus aan die metro gerig het oor die aanhoudende krag- en rioolprobleme waaronder verskillende dele van Pretoria gebuk gaan.

Volgens die metro het die onlangse stakings baie druk op dienslewering geplaas, wat ’n groot agterstand veroorsaak het. Die agterstand sal na verwagting teen die einde van die week uit die weg geruim wees.

“Ons vergadering met die metro was positief en hulle het bevestig dat die meeste van die agterstande voor die einde van die week uitgesorteer sal word. AfriForum sal die situasie steeds moniteer en terugvoer aan die administrateurs verskaf,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

“Ons sien uit om in die toekoms saam met die metro te werk om Pretoria vir almal te verbeter. Ons sal aanhou om druk toe te pas om te verseker dat geskikte oplossings vir probleme gevind word,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

“Dienslewering is nou AfriForum en die administrateurs se prioriteit. Ons kan saamwerk om beter dienslewering te verseker al verskil ons oor ander sake, soos byvoorbeeld die begroting,” sê Morné Mostert, bestuurder vir plaaslikeregeringsake by AfriForum.

Raak vandag nog by AfriForum se takke in Pretoria betrokke: SMS “Pretoria” na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings