|

AFRIFORUM VERGADER MET BLOEMHOF-INWONERS OOR GEMEENSKAPSVEILIGHEID

AfriForum se gemeenskapsveiligheidafdeling het die Bloemhof-gemeenskap op 10 Desember 2020 besoek nadat die gemeenskap dié afdeling versoek het om hulle oor beveiliging toe te spreek. Dié vergadering het in die NG Kerk se saal plaasgevind en die gemeenskap is ook toegespreek oor selfbestuur, selfbeveiliging en om binne die raamwerk van die wet eienaarskap van hul eie veiligheid te neem.

Proaktiewe beskermingsmaatreëls, huisbewoners se verantwoordelikheid, gemeenskapsverantwoordelikheid, beplanning en die uitvoering van proaktiewe maatreëls en wenke om misdaad te bekamp en paraatheid te verhoog, is ook by die voorlegging ingesluit.

“Dit is duidelik dat misdaad besig is om toe te neem in ons gebied en dat ons na ons eie veiligheid moet begin omsien en saam moet werk om misdaad te bekamp. As ons ’n georganiseerde struktuur het en die gemeenskap se bereidwilligheid, sal ons misdaadtendense kan identifiseer en die omgewing veiliger kan maak vir die gemeenskap,” sê Albert Nel, voorsitter van AfriForum se Bloemhof-tak.

“Dit is duidelik dat daar ’n wesenlike behoefte in Bloemhof is vir selfbeveiliging en dat die gemeenskap misdaad as ’n ernstige bedreiging beskou. Deur ’n gevestigde, georganiseerde struktuur daar te stel, kan die gemeenskap ’n groot verskil maak om hulself te beveilig. Dit is verblydend om te sien dat daar groot entoesiasme heers en ’n bereidwilligheid is om ’n verskil te maak. Ons moet meer klem daarop lê om gemeenskappe toe te rus met hierdie kennis om vooruitgang te bewerkstellig,” sê Gerhard Faber, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir Noordwes.

Raak vandag nog by AfriForum se veiligheidstrukture betrokke: SMS “Veiligheid” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings