|

AfriForum verhoed onwettige oes van beskermde boom

Die AfriForum-tak in Tzaneen het vandeesweek ’n strafregtelike klag by die polisie ingedien teen persone wat vermoedelik betrokke is by die onwettige oes en handel in die beskermde Breonadia Salicina (Mingerhout-bome) buite die dorp.

Dít volg nadat lede van die Tzaneen-tak opgemerk het dat persone sonder permitte dié bome in ʼn versteurde woud in die omgewing oes. Die maatskappy onder verdenking het gemerkte vragmotors gebruik om die hout onwettig te vervoer na hul perseel in die dorp.

Volgens Chris Boshoff, AfriForum se streekskoördineerder vir Limpopo, is die Mingerhoutboom, wat geoes word om duursame meubels te vervaardig, ingevolge die Nasionale Bosbouwet van 1998 (Wet 84 van 1998) ’n beskermde spesie.

“Hoewel die boom gelys word as ʼn beskermde boom deur die departement van waterwese en bosbou, word dit steeds onwettig in en om Tzaneen geoes, waarna dit vermoedelik deur sindikate in die meubelhandel geplaas word.”

Volgens Boshoff moet permitte van die departement bekom en natuurbewaring ook inspeksie doen, voordat die Mingerhoutbome afgekap, verwyder of verkoop mag word. ʼn Permit moet ook uitgereik word vir die vervoer van dié boom se hout. Hy sê voorts dat ʼn deskundige van die departement van waterwese en bosbou, wat betrokke was by dié ondersoek, geskok is oor die openlike onwettige oes en handel in dié spesifieke Mingerhoutbome omdat hul elk vermoedelik sowat 600 jaar is.

“Persone wat hul daaraan skuldig maak om die beskermde spesie onwettig te oes, kan groot boetes of tot 3 jaar tronkstraf opgelê word. Daar kan ook op die hout in onwettige besit beslag gelê word,” sê Boshoff.

Izak van der Merwe, assistent-direkteur van bosbou, toesig en regulasies in die departement van landbou, bosbou en vissery, het in ʼn brief die burgerregte-organisasie bedank vir hul waaksaamheid en spoedige optrede en gesê dat hul staatmaak op organisasies soos AfriForum om die oë en ore van die departement te wees. Hy het gesê vier beëdigde verklarings is reeds afgeneem en ʼn lasbrief is uitgereik. Daar is ook op ’n vragmotor met Mingerhout daarop in Tzaneen beslag gelê.

“Ons inheemse woude en bome moet beskerm word. Onkunde is geen verskoning vir die verdagtes se optrede nie,” meen Pieter Venter, voorsitter van die AfriForum-tak in Tzaneen. Die aksie was deel van AfriForum se boomplantmaand-inisiatief, waartydens die burgerregte-organisasie die hele maand aan die plant van bome gewy het.

Volgens Marcus Pawson, AfriForum se hoof van omgewingsake, het die projek ten doel om ʼn beter toekoms vir nageslagte te verseker. Sowat 130 AfriForum-takke het landwyd aan die projek deelgeneem. Meer as 2 000 bome is geplant. Die takke het verskeie ondernemings, gemeenskappe en skole besoek om oor die belangrikheid van bome te praat, terwyl uitheemse uitwissingsprojekte ook van stapel gestuur is.

Om deel te wees van dié inisiatief, SMS “BOOM” na 45354.

Soortgelyke plasings