|

AFRIFORUM: VERHOGING VAN SELFOPWEKKINGSKRAGLIMIET KAN SUID-AFRIKA SE KRAGKRISIS VERLIG

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag die aankondiging van president Cyril Ramaphosa verwelkom dat die selfopwekkingskraglimiet verhoog sal word van 1 MW na 100 MW. Die organisasie, tesame met ander organisasies, het verlede maand ná die voorstel deur Gwede Mantashe, Minister van Minerale Bronne en Energie, om die limiet slegs tot 10 MW te verhoog, ’n skrywe gerig aan die minister, waarin hulle versoek het dat dit minstens na 50 MW verhoog word.

Morné Mostert, hoof van plaaslikeregeringsake by AfriForum meen dat hierdie aankondiging ’n tree in die regte rigting is vir die kragkrisis wat Suid-Afrika tans ervaar. “Wanneer besighede toegelaat word om self hulle energie te reguleer, maak dit ook Eskom se lading om krag te voorsien ligter. Verder gaan dit aan besighede die geleentheid bied om self nuwe energieoplossings vir verskillende industrieë te implementeer.”

Volgens Mostert sal hierdie nuwe limiet nuwe ekonomiese geleenthede skep waar Suid-Afrika nuwe rolspelers en ’n uitbreiding in die energiegenereringsbedryf gaan sien.

“Hierdie is die vinnigste manier om baie meer genereringsvermoë in Suid-Afrika beskikbaar te stel. Dit sal ook die monopolie wat Eskom tans as energieopwekker het begin afbreek tot op ’n vlak waar gemeenskappe toegerus kan word om hierdie regulering op grondvlak te bestuur en voordeel daaruit te trek,” sluit Mostert af.

Soortgelyke plasings