AfriForum verkla The Huffington Post by die persombudsman


Die burgerregte-organisasie AfriForum het die nuusblad The Huffington Post Suid-Afrika vandag by die persombudsman aangekla. Die redakteur Verashni Pillay word in dieselfde klag ook aangekla.

Die klag handel oor The Huffington Post Suid-Afrika se publikasie en verdediging van ’n artikel genaamd “Could it be time to deny white men the franchise?” In die artikel word aangevoer dat wit mans hul stemreg vir 20 tot 30 jaar ontneem word ten einde wanbalanse reg te stel.
Die artikel is wêreldwyd gekritiseer, waarna Pillay nie net The Huffington Post se besluit om die artikel te publiseer nie, maar ook die inhoud daarvan verdedig het. Pillay het die artikel as “pretty standard feminist theory” beskryf en daarop gesinspeel dat diegene wat beswaar teen die artikel aanteken dit slegs doen omdat hulle self rassisties of seksisties is. Die onderliggende argument van die artikel word deur Pillay as “blindingly obvious to us” beskryf. Intussen het Sipho Hlongwane, redakteur van blogs by The Huffington Post Suid-Afrika, op Twitter gespog oor die aantal besoeke wat The Huffington Post as gevolg van hierdie artikel kry en die spot gedryf met mense wat daaroor kla.
In die artikel word aangevoer dat wit mans blameer moet word vir ’n reeks van politieke gebeure wat as “blows to the progressive cause” beskryf word. Dit sluit Brexit en die verkiesing van Donald Trump as president van die Verenigde State van Amerika (VSA) in, asook die feit dat die DA in vier van Suid-Afrika se stede regeer. Die artikel bevat ook ’n reeks feitefoute, soos dat wit mense 90% van die land se rykdom besit, dat wit mans 97% van die Johannesburgse Aandelebeurs besit en dat 90% van Amerikaanse bates deur 10% van Amerikaners besit word. Wit mans word in die artikel ook vir die wêreldresessie van 2008 blameer, sowel as kolonialisme, slawerny en volksmoord. Gevolglik word aangevoer dat wit mans vir 20 tot 30 jaar van hul reg om te stem ontneem moet word.
Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat The Huffington Post en verskeie lede van sy redaksie, wat Pillay en Hlongwane insluit, die nuusblad misbruik om ’n ideologiese veldtog te voer.

“Die internasionale veroordeling van hierdie artikel het nie net groot skade aan die geloofwaardigheid van The Huffington Post Suid-Afrika berokken nie, maar ook The Huffington Post as internasionale platform en die Suid-Afrikaanse pers oor die algemeen.”

AfriForum het ’n beroep op die persombudsman gedoen om te verklaar dat die artikel, die publikasie daarvan en spesifiek ook die verdediging daarvan deur The Huffington Post Suid-Afrika as ’n oortreding van The Huffington Post se eie regulasies, die perskode en die Grondwet verklaar word. AfriForum het ook versoek dat The Huffington Post en Pillay om verskoning vra aan wit mans en almal wat aanstoot geneem het deur die beledigende aard van die artikel en Pillay se verdediging daarvan.
Die artikel is intussen van The Huffington Post se webtuiste verwyder vir die uitsluitlike rede dat die identiteit van die outeur nie bevestig kon word nie.

“The Huffington Post Suid-Afrika se verdediging van die inhoud van die artikel, by monde van Pillay, kan dus steeds as die nuusblad se amptelike standpunt oor hierdie kwessie beskou word,” sê Roets.

Soortgelyke plasings