AfriForum verkla staatsaanklaer


Die burgerregte-organisasie AfriForum het op 26 Julie 2017 ’n lid van sy Vryburg-buurtwag bygestaan om ’n formele klagte teen Daniel Tedikwe, staatsaanklaer van die Vryburg-landdroshof, by die direkteur van openbare vervolging aanhangig te maak ná beweerde ongrondwetlike en onetiese optrede.
Dít volg nadat die betrokke AfriForum-buurtwaglid op 28 Junie 2017 gearresteer is vir beweerde aanranding met die opset om ernstig te beseer. Die staatsaanklaer het egter geweier om die aangeleentheid formeel op die hofrol te plaas ten einde die beskuldigde die geleentheid te bied om vir borgtog aansoek te doen. Die beskuldigde moes gevolglik ’n nag in aanhouding deurbring. AfriForum se regspan is ook toegang tot die beskuldigde geweier.

“AfriForum se prokureur het op 29 Junie 2017 sy opwagting by die hof gemaak en wéér versoek dat ’n borgtogaansoek op die rol geplaas word. Die staatsaanklaer het weer eens geweier om dit te doen, aangesien die klaer se beserings na bewering te ernstig was,” sê Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland.

Die burgerregtewaghond se prokureur het die saak met Sonja Rooskrans, senior staatsaanklaer, opgeneem waarna sy instruksie gegee het dat ’n formele borgtogaansoek op die hofrol geplaas word, welke aansoek op 29 Junie 2017 aangehoor is. Tydens hofverrigtinge het die staatsaanklaer weer gepoog om die beskuldigde in aanhouding te hou deur die borgtogbedrag te verhoog. Die beskuldigde is egter op 29 Junie 2017 deur landdros Sophia Meyer op borgtog vrygelaat.

“Die staatsaanklaer se optrede is kwaadwillig, onaanvaarbaar en strydig met die beskuldigde se grondwetlike regte soos verskans in artikel 12 van die Grondwet, veral gesien in die lig daarvan dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) geen beswaar teen borgtog en die vrylating van die beskuldigde gehad het nie,” sê Hein Gonzales, risiko- en ondersteuningsbestuurder van AfriForum se gemeenskapsveiligheidsafdeling.
“Ingevolge artikel 35 van die Grondwet word ’n beskuldigde geag onskuldig te wees tensy hy in ’n formele verhoor skuldig bevind word. Die staatsaanklaer se gedrag kom neer op die misbruik van borgtogverrigtinge wat die beskuldigde se grondwetlike regte skend,” voeg Gonzales by.

Is jy moeg vir viktimisasie, intimidasie en die misbruik van staatshulpbronne? Raak by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS “Tronk” na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings