AfriForum verklaar dispuut met Discovery oor Discovery Bank-diskriminasie


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag ’n dispuut met Discovery verklaar op grond van die pasgestigte Discovery Bank se voorneme om op ’n rassegrondslag teen minderhede te diskrimineer.
Dit volg nadat Discovery Bank aangekondig het dat swart deponeerders ’n 10%-aandeel in die maatskappy sal kry en dat hierdie voordeel uitsluitlik aan swart mense gebied word.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat ’n wesenlike komponent van AfriForum se 215 000 lede sake met Discovery doen. “Ons doen in hierdie stadium nie ’n beroep op ons lede om hul sake met Discovery te staak nie, maar wel om solank ander opsies hangende die uitkoms van dié dispuut te oorweeg,” sê Roets.
Roets voeg by dat AfriForum-lede geweldig deur hierdie blatante rassediskriminasie gegrief is. “Ons leef in die jaar 2018. As Discovery hom met opheffingsprojekte wil bemoei, sal dit veel meer sin maak om byvoorbeeld in onderwys te belê. Dit help nie om aan te voer dat Discovery Bank en ander afdelings (soos die mediese fonds) afsonderlike afdelings is nie, aangesien dit deel van die Discovery-groep is – tensy die ander afdelings van Discovery dan bereid is om hulle van Discovery Bank se diskriminasie te distansieer. Ons sal die kwessie met Discovery opneem en aan ons lede terugvoer oor die uitkoms daarvan gee. AfriForum is bereid om sy lede by te staan om van mediese fonds te verander indien nodig,” sluit Roets af.

Meer inligting oor dié veldtog sal eersdaags aangekondig word.

Soortgelyke plasings