AfriForum veroordeel alle vorme van rassisme


Die burgerregte-organisasie AfriForum het hom opnuut sterk teen die gebruik van die rassistiese “k-woord” uitgespreek en ’n beroep op die publiek gedoen om nie hierdie woord te gebruik nie. AfriForum het ook ’n beroep op die publiek, media en meningsvormers gedoen om konsekwent te wees in hul veroordeling van rassisme. Dit volg nadat ’n video op sosiale media die ronde begin doen het waarin Adam Catzavelos hierdie woord gebruik.
Volgens Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, moet alle vorme van rassisme veroordeel word. Hy het egter sy kommer uitgespreek oor die growwe inkonsekwente veroordeling van rassisme deur meningsvormers in Suid-Afrika.

“AfriForum het reeds 115 strafregtelike klagtes ingedien teen mense wat moord en selfs volksmoord teen minderhede aanhits. Dit is kommerwekkend dat wanneer daar ’n wekroep vir geweld teen minderhede gemaak word, dit byna geen aandag in hoofstroommedia kry nie. Wanneer ’n wit persoon egter iets aanstootlik oor swart mense sê, word dit egter gereeld tot ’n nasionale krisis verhef.”

AfriForum het onlangs ’n analise gepubliseer oor die wyse waarop daar oor geweld op plase verslag gedoen word. Hierdie analise dui daarop dat die grootste bepalende faktor oor hoe die media op ’n voorval van geweld reageer, die ras van die oortreder is. Die organisasie het ná ’n analise van meer as 2 000 nuusartikels bevind dat voorvalle van geweld op plase waar die oortreder wit en die slagoffer swart was, gemiddeld 16 keer meer dekking kry as gevalle waar die oortreder swart en die slagoffer wit was.
AfriForum sal voortgaan om alle vorme van rassisme konsekwent te veroordeel.

Soortgelyke plasings