AfriForum veroordeel Eskom-plan om R100 miljard se skuld na regering te skuif


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag Eskom se versoek om R100 miljard van die elektrisiteitsreus se skuld deur die regering te laat oorneem, veroordeel.

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer by AfriForum, sê sulke stappe deur Eskom sal net weer groter probleme op ander plekke skep en die verkeerde boodskap uitstuur. “In die afwesigheid van moeilike besluite wat deur Eskom se bestuur en die regering geneem word om die elektrisiteitsvoorsiener se posisie te verbeter en die elektrisiteitsektor te transformeer, is hierdie versoek onaanvaarbaar. Dit stuur die boodskap uit dat die regering, en uiteindelik die belastingbetaler, net later weer die rekening sal betaal indien dinge skeefloop.
“Dié massiewe bedrag sal na raming 2% by die regering se skuld-tot-BBP-verhouding voeg indien dit deurgevoer word. Dit sal ook beleggers en die kredietgraderingsagentskappe negatief jeens die land stem en Suid-Afrika kan dan dalk ’n afgradering te wagte wees,” sê Brink.
Volgens Brink sal die belastingbetaler en sakesektor, wat nou weer onder knaende elektrisiteitsonderbrekings deurloop, hierdie geld net weer ten duurste op ’n ander manier moet befonds. “Die regering sal ook dan duurder moet betaal om hierdie verhoogde skuld aan te suiwer,” voeg Brink by.
Volgens hom het Eskom en die staat se korrupsie en wanbestuur tot hierdie situasie aanleiding gegee. “R51 miljard se onreëlmatige besteding is deur verskeie staatsinstellings – Eskom uitgesluit – in die 2017/2018-boekjaar aangegaan. Dit sluit boonop verkwiste, ongemagtigde en vrugtelose besteding uit. Nou word die belastingbetaler dalk weer met ’n las opgesaal terwyl Eskom en die staat nie self hul huis in orde kry nie,” sluit Brink af.

 

Soortgelyke plasings