|

AfriForum veroordeel NGV ten sterkste in parlement

AfriForum het vandag die organisasie se insette oor die wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) voor die parlementêre portefeuljekomitee vir gesondheid gelewer. Dié wetsontwerp behels die nasionalisering en monopolisering van die gesondheidsektor, asook die vernietiging van privaat mediese fondse. AfriForum het in sy voorlegging talle redes verskaf oor waarom die wetsontwerp katastrofies vir Suid-Afrika sal wees. Die burgerregteorganisasie het geargumenteer dat die voorgestelde wet, soos ander maatskappye in staatsbesit, vatbaar sal wees vir korrupsie en wanadministrasie, maar dat die implementering daarvan ook onbekostigbaar vir belastingbetalers sal wees en dat dit sal lei tot die massa-emigrasie van gesondheidswerkers.

“Die regering gebruik NGV as ’n manier om stemme by arm Suid-Afrikaners te werf, wat geldige griewe oor die gehalte van gesondheidsorg in Suid-Afrika het. NGV sal egter nie ’n oplossing vir hierdie probleme wees nie. Dit sal inteendeel die algehele toegang tot gehalte gesondheidsorg verlaag deur privaat gesondheidsorg te vernietig,” het Reiner Duvenage, AfriForum se veldtogbeampte vir strategie en inhoud, tydens die voorlegging gesê.

“Die ware koste en dienste wat nodig gaan wees vir NGV, is heeltemal onbekend, maar ten spyte hiervan word dit steeds op die alreeds oorbelaste belastingbetaler afgedwing. Deur na die baanrekord van gemonopoliseerde entiteite in staatsbesit te kyk, gaan NGV swaar belas word deur korrupsie, buitensporige burokrasie, wanbestuur en onbevoegdheid,” het Duvenage afgesluit.

AfriForum herbevestig sy onderneming om NGV te beveg. Ondersteun hierdie uiters belangrike saak deur AfriForum se webtuiste oor NGV te besoek.

Soortgelyke plasings