AfriForum veroordeel presidensie se besluit om voort te gaan met oordadige inhuldigingseremonie


AfriForum veroordeel die presidensie se besluit om voort te gaan met vandag se oordadige inhuldigingseremonie ten sterkste. Ten spyte van die presidensie se versekerings dat belastingbetalers R100 miljoen minder gaan moet opdok, in vergelyking met die vorige presidensiële inhuldiging, is R120 miljoen steeds ’n reusebedrag om aan ’n eenmalige en onnodige seremonie soos hierdie te bestee.

Nkosazana Dlamini-Zuma, minister in die presidensie, het beweer die presidensie het ’n “knap begroting” vir vanjaar se inhuldiging.

“Suid-Afrika se huidige ekonomiese toestand regverdig egter steeds nie die reusekoste hieraan verbonde nie. Dit is logies dat wanneer ’n mens swaar trek, jy eerste op luukshede sny en dit is presies wat die inhuldiging is. Die presidensie se redenasie dat mense na die inhuldiging aangery moet word sodat hulle deel kan hê aan die feesvieringe is verder manipulerend omdat hierdie fondse beter aangewend sou kon word om gewone mense se lewens op die lang termyn te verbeter eerder as om hulle vir een dag te vermaak,” sê Natasha Venter, veldtogbeampte by AfriForum.

AfriForum het ook vandeesmaand talle protesbriewe van inwoners regoor die land teen die president se versoek dat munisipaliteite derduisende mense na die presidensiële inhuldiging aanry, by die nasionale en provinsiale departemente van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) ingedien. Die burgerregte-organisasie het ook ’n brief aan die presidensie gestuur rakende hierdie kwessie. Dlamini-Zuma het intussen aangedui dat altesaam 32 000 mense van verskeie provinsies met busse na Loftus Versfeld-stadion vir vandag se inhuldiging aangery is.
Verder het polisieminister Bheki Cele 2 500 polisielede beskikbaar gestel vir die presidensiële inhuldiging om diegene wat dit bywoon se veiligheid te verseker. Dít terwyl daar vanjaar reeds 170 plaasaanvalle en 20 plaasmoorde was en die polisiemag geensins gemobiliseer word om voorkomend in hierdie verband op te tree nie.

“As Suid-Afrika se regering nóg meer geld van skuldbelaste belastingbetalers kan mors op ’n ligsinnige byeenkoms soos hierdie, moet ons onsself begin afvra tot watter stappe die regering hom volgende sal wend om sy spandabelrigheid voort te sit,” sluit Venter af.

Soortgelyke plasings