| |

AfriForum verseker die verwydering van onwettige besetters

Die balju en die SAPD het aan die einde van verlede week begin om onwettige en ongewenste strukture van mnr. Fernando Goncalves se grond buite Rustenburg te verwyder. Dít volg na AfriForum die hoë hof in Mahikeng dringend genader en ’n bevel bekom het om grondgrype op dié eiendom stop te sit en nóg grondgrype te verhoed. Die SAPD is ook volgens die bevel verplig om saam met die balju teen die betreders op te tree.

Goncalves se grond is in Junie 2019 wederregtelik betree, waarna die betreders sonder versuim begin het om erwe af te merk en strukture op te rig. Hoewel Goncalves en AfriForum se plaaslike takvoorsitter probeer het om ’n klag van betreding by die polisiestasie in Rustenburg te lê, het die SAPD geweier om klagtes te open of om enige daadwerklike stappe te neem om die grondgrype hok te slaan.

AfriForum het sy regspan onmiddellik opdrag gegee om die nodige aansoek voor te berei om die hof dringend te nader. Die aansoek is ten minste drie keer per e-pos aan die polisiestasie in Rustenburg versend, maar is eenvoudig uitgevee sonder dat dit gelees is.

“AfriForum maak met hierdie aansoek en die uitvoering daarvan weer eens sy stem dik teen die grondgryptendens wat die land tans teister. Dit is verblydend om te sien hoe gemeenskappe waar grondgrype kop uitsteek met AfriForum hande vat en vinnig reageer om die onwettige betreders die stryd aan te sê,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder.

 

“Sekere polisiestasies skroom ongelukkig steeds om gemeenskappe teen hierdie soort misdade te beskerm. AfriForum sal egter aanhou om as waghond op te tree en seker te maak die SAPD word tot verantwoording geroep indien hulle nie aan hul mandaat voldoen nie,” sê Joseph Renaud, AfriForum se veiligheidshoof vir die sentraalstreek.

Soortgelyke plasings