|

AfriForum versigtig optimisties oor nuwe SAUK-kanale

AfriForum verwelkom die nuus dat vier nuwe taalgebaseerde SAUK-kanale beplan word met versigtige optimisme.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van die burgerregte-organisasie, het gesê AfriForum het sedert sy ontstaan 10 jaar gelede verskeie gesprekke met SAUK-verteenwoordigers gevoer en later selfs veldtogte geloods rondom die afskaling van Afrikaans veral op televisie.

“Ons is dankbaar om te hoor die beginsel van ’n taalgemeenskap se belang in ’n eie TV-kanaal, word ten minste nou erken.”

Die SAUK het vandeesweek aangekondig hy gaan met die oorskakeling van analoog na digitale televisie nuwe kanale skep om op sekere tale te fokus. Sotho, Zoeloe, Xhosa en ’n Afrikaanse kanaal word in die vooruitsig gestel. Die Afrikaanse kanaal sal Afrikaanssprekendes bedien wat die Khoisan-gemeenskap sal insluit.

Bailey meen vanuit ’n besigheidsoogpunt maak die besluit beslis sin.  “Sowat ’n derde van die Suid-Afrikaanse mark is Afrikaans, dus behoort so ’n kanaal, as dit behoorlik bestuur word, finansieel lewenskragtig te kan wees.”

AfriForum glo ook die druk van adverteerders het in die verlede al beteken dat diskriminasie teen Afrikaanssprekende luisteraars en kykers nie op groter skaal plaasgevind het nie.  Verder bewys die bloei van onder meer Afrikaans-gefokusde streeksradiodienste en van die Afrikaanse rolprentwese hoeveel talent daar in die Afrikaanse gemeenskap is, beide wat skeppende en tegniese vermoëns aanbetref.

 

“Waaroor kommer bestaan, is of die besluit ooit gaan realiseer.  Uit alle oorde word vrae oor die aanvanklike befondsing van die kanaal gehoor.  Slegs tyd sal leer of die aankondiging dus werklik ’n vaste voorneme en uitvoerbare, volhoubare plan verteenwoordig,” het Bailey gesê.

 

Soortgelyke plasings