|

AfriForum verskerp druk op regering oor onwettige grondeis in Centurion-gebied

AfriForum het vandag ’n memorandum aan ’n verteenwoordiger van die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming oorhandig waarin die burgerregte-organisasie sy besware teen ’n massiewe residensiële grondeis in Centurion uiteensit.

Die aksie het gepaard gegaan met kruiwaens vol grond en huise daarop wat na die departement gestoot is om die boodskap duidelik oor te dra dat die burgerregtewaghond onteiening sonder vergoeding en onwettige grondeise enduit sal teenstaan.

AfriForum se volgehoue druk en die mobilisering van die gemeenskap het juis daartoe gelei dat Maite Nkoana-Mashabane, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Vrydag skielik aangekondig het dat onroerende eiendom wat deur die Centurion-grondeis geraak word nie onteien sal word nie. Finansiële vergoeding vir die eiser word wel  steeds oorweeg. “AfriForum kan egter nie staatmaak op vae beloftes van ’n  regering op wie se woord mens nie kan reken nie. Ons veg voort om te verhoed dat belastingbetalers se geld nie vermors word en huiseienaars nie verontrief word deur die beperkings wat grondeise op hulle plaas nie,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Meer as ’n duisend bekommerde lede van AfriForum en die publiek het onlangs ’n vergadering in Centurion bygewoon om formeel hul mandaat te gee om die residensiële grondeis in dié gebied teen te staan.

AfriForum se regspan het die grondeisekommissie ook reeds skriftelik in kennis gestel van die organisasie se voorneme om die eis op nagenoeg 4 000 ha grond teen te staan.

Die restitusie-eis se waarde beloop sowat R4 miljard. Dit is meer as 20 jaar gelede deur mnr. Zulu Kleinbooi Mahlangu namens 39 families ingedien en is nou weer in die nuus nadat dit verlede jaar in die Staatskoerant afgekondig is.

Die meeste van die eisers was klein- en agterkleinkinders van oorledenes wat in 1968 in die gebiede gewerk het. Baie van hulle is ook intussen dood. Luidens die verslag wat by die grondeisekommissaris ingehandig is en op grond waarvan die eis gebring is, is daar geen bewyse van enige verblyfreg wat die eisers se voorgeslagte gehad het nie.

Die gebiede wat deur die eis geraak word, sluit in Rooihuiskraal, The Reeds, Kosmosdal, Heuweloord, Highveld, Zwartkop, Midstream, Doornkloof, Tweefontein, Brakfontein, Olievenhoutbosch, Louwlardia, Hoekplaats, Trigaardspoort, Celtisdal en die Danie Joubert-snelweg (N1).

Cameron sê AfriForum het reeds ’n aksieplan gereed en is besig om die nodige stappe te doen om hierdie aanval op privaateiendomsreg teen te staan.

“Hierdie eis is die ideale geleentheid vir onteiening sonder vergoeding om wortel te skiet sonder om dit by name te noem. Onwettige grondgrype kan ook plaasvind wat ons nie sal toelaat nie.”

Cameron meen dit is onregverdig dat daar met die ondeurdagte eis teen huidige eienaars van eiendom gediskrimineer word. “Niemand van hulle is enigsins in die proses geken of behoorlik oor die voorgenome eis ingelig nie. Dit is ook onaanvaarbaar om ’n eis sonder enige bewyse in te dien en dat die onus op die huidige eienaar val om die teendeel te bewys.”

Volgens Cameron rig eise soos dié enorme skade aan en beïnvloed dit eiendomswaarde negatief. “Die eis is wat ons betref ’n opportunistiese skuif. Daar is geen duidelikheid oor hoe dit die tussen 4 000 en 6 000 inwoners gaan raak nie en wat die impak op die gemeenskap sal wees nie.”

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, meen die verslag ter ondersteuning van die eis, is swak, uiters vaag, onvolledig en bevat geen behoorlike navorsing nie. “Dit leun swaar op anekdotiese verhale van die eisers.”

Brink meen eise soos dié kan ’n presedent skep en as dit eenvoudig lukraak goedgekeur word ’n enorme las op die staatskas plaas terwyl belastingbetalers reeds swaar trek.

Marnus Kamfer, regs-en-risiko-bestuurder by AfriForum, sê behoorlike navorsing moet oor die relevansie van die eis gedoen word. Daarvoor sal bepaalde kundiges ook betrek word.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die organisasie het toegetree tot dié saak omdat honderde eienaars se eiendom, waarvoor hulle hard gewerk het, deur ’n grondeis sonder meriete bedreig word. “Politici het onrealistiese verwagtinge oor grond by hul ondersteuners geskep. Ons gaan egter nie terugstaan en toekyk hoe wettige eienaars die prys hiervoor betaal nie.”

Soortgelyke plasings