AfriForum-verslag toon wanbesteding van R16 miljard deur nasionale departemente


AfriForum het vandag as deel van sy nasionale fluitjieblaserveldtog ’n verslag bekend gestel wat die totale opgelope wanbesteding van R16 miljard deur nasionale departemente tydens die 2015/2016-finansiële jaar blootlê. Die nasionale departemente van vervoer; water en sanitasie (DWS) en basiese onderwys is die grootste oortreders wat gesamentlik vir die wanbesteding van bykans R9 miljard verantwoordelik is.
Dié inligting is onder meer deur die departemente se jaarverslae bekom, wat elk ’n verslag van die ouditeur-generaal (OG) insluit.
Volgens Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid, het die departement van vervoer ’n opgelope bedrag van R4,23 miljard wanbestee.

“’n Funksionele openbare vervoerstelsel is van kritieke belang vir die groei en vooruitgang van Suid-Afrika. Dit is onaanvaarbaar dat dié departement meer as R4 miljard wanbestee terwyl die tekort aan behoorlike openbare vervoerinfrastruktuur duisende landsburgers benadeel,” sê Taute.

Verder het die DWS R2,58 miljard wanbestee terwyl talle gemeenskappe nie toegang tot skoon en drinkbare water het nie. “In 2015 het meer as 25% van huishoudings gereelde watertoevoerprobleme aangemeld. Met tye was die watertoevoer vir dae aaneen af wat teenstrydig met nasionale wetgewing is.”
Die departement van basiese onderwys het ’n totale opgelope bedrag van R2,41 miljard bestee.

“Sowat 80% van Suid-Afrikaanse skole is wanfunksioneel, grootliks weens swak en onvoldoende infrastruktuur. Die departement kon die miljarde rande wat wanbestee is onder meer aangewend het om dringende benodigdhede soos skoolbanke, stoele, hand- en werkboeke aan te koop en te versprei,” sê Taute.

AfriForum se teenkorrupsie-eenheid gaan oor die volgende paar weke strafregtelike klagtes indien ingevolge artikel 86(1) van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 (Wet No. 1 van 1999) teen die direkteurs-generaal van hierdie drie nasionale departemente.
Volgens Taute sal die klagtes teen die direkteurs-generaal gegrond wees op hul beweerde finansiële wanbesteding ingevolge wetgewing.

“Die direkteurs-generaal is die rekenpligtige beamptes wat verantwoordelik is daarvoor om onreëlmatige, vrugtelose, verkwistende en ongemagtigde uitgawes te voorkom en skuldige partye aanspreeklik te hou. Die direkteurs-generaal is ook verplig om volledige rekords van die departement se finansiële sake in ooreenstemming met die voorgeskrewe wetgewing, norme en standaarde te hou.”

AfriForum moedig die publiek aan om die nodige druk op die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te plaas deur ’n SMS met hul naam te stuur na 45352 (R1).

Soortgelyke plasings