| | | |

AFRIFORUM VERSOEK AFSKRIF VAN VOORGESTELDE SEB-ENTSTOFBELEID IN PROKUREURSBRIEF AAN RAMAPHOSA

Die burgerregteorganisasie AfriForum se regspan het ’n prokureursbrief aan pres. Cyril Ramaphosa gerig waarin hulle geskrewe bevestiging vra oor onlangse mediaberigte wat berig dat die regering beplan om swart ekonomiese bemagtigingsmaatreëls en -vereistes (SEB) toe te pas vir die aanskaffing, verspreiding en toediening van COVID-19-entstowwe.

AfriForum eis voorts terugvoer oor of daar wel ’n formele beleid rakende die bogenoemde aanvaar is, sowel as ’n afskrif van sodanige beleid indien die regering reeds so ’n formele beleid daargestel het.

“Indien dit wel soos berig die geval is dat die regering voortgaan met die SEB-kriteria waar dit die entstof aangaan, is dit ’n duidelike aanduiding dat die regering ’n rasse-agenda bo menselewens stel. Daar is reeds in die verlede bewys dat SEB-beleide grootliks gebruik word om korrupsie, kaderontplooiing en die verryking van persone met die regte politieke bande te bevorder. As ’n mens die oorweldigende bewyse uit die verlede in ag neem, kan daar met alle redelikheid aanvaar word dat SEB-kriteria vir entstofbeleide vir dieselfde korrupte doeleindes aangewend sal word. ’n Regering wat reeds tydens die inperking die fondse gebuit het wat vir weerlose, sukkelende en siek mense bedoel was, het die kans verbeur om die voordeel van die twyfel te geniet,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Soortgelyke plasings