AfriForum versoek dat Openbare Beskermer eDumbe Munisipaliteit ondersoek


AfriForum het die Openbare Beskermer (OB) gevra om dringend ’n tender vir voorafbetaalde meters wat tans miljoene rand se verliese vir die eDumbe Plaaslike Munisipaliteit veroorsaak, te ondersoek. Dít volg ná verskeie inwoners gereeld probleme ervaar het om voorafbetaalde elektrisiteit te koop en dan waargeneem het dat die nuwe meters se elektrisiteit baie duurder is as dié van die ou meters.
AfriForum het vertroulik verneem dat die korrekte prosesse volgens Artikel 33 van die Munisipale Finansiëlebestuurswet, 2003 (Wet no. 56 van 2003) nie gevolg is nie en geen konsultasie met die publiek plaasgevind het nie. Verder het dit ook onder AfriForum se aandag gekom dat Hexing, die metermaatskappy, 30% van die elektrisiteitsinkomste in hul sak steek – wat die munisipale winsgrens op elektrisiteitsverspreiding ver oorskry.

Verskeie besighede het al skade gely as gevolg van elektrisiteit wat op ’n gereëlde basis nie beskikbaar is nie. Die Hexing-meters sou weer deur die munisipaliteit met Conlog-meters vervang word, maar die munisipaliteit het nie opgedaag nie en verwag dat die verbruikers weer betaal vir die nuwe meters, al is die Conlog-meters reeds voorheen betaal. “Hierdie optrede van die munisipaliteit is na ons mening nie net onregverdig nie, maar boonop onwettig en sal nie geduld word nie,” sê Rudoelf Kruse, komiteelid van AfriForum se Paulpietersburg-tak.
“Ons sien daagliks hoe munisipaliteite bestuur word asof dit ’n eenmansaak is en dat selfverryking belangriker as dienslewering is. AfriForum het die OB gevra om die tenderproses te ondersoek en die burgerregtewaghond is besig om regsadvies in te win ten einde ’n kriminele klag teen die betrokke partye in te dien,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.

Raak by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS jou naam na 45267 (R1).
 

Soortgelyke plasings