AfriForum versoek finansiesminister om in te gryp met stadreinigingsheffing


AfriForum het ’n skrywe aan Malusi Gigaba, minister van finansies, gerig waarin die burgerregte-organisasie hom versoek om in te tree in die kwessie van die stadreinigingsheffing wat deur die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit geïmplementeer word. Dít volg nadat AfriForum die munisipaliteit in kennis gestel het dat só ’n heffing nie aan die grondwetlike raamwerk voldoen nie.
Die Wet op Munisipale Fiskale Magte en Funksies, 2007 (wetno. 12 van 2007) maak voorsiening vir die magtiging van belasting, heffings en pligte wat munisipaliteite ingevolge die Grondwet mag oplê. Dít moet egter eers deur die minister van finansies goedgekeur word. Die stadreinigingsheffing val binne die omvang van hierdie wet, aangesien dit gebaseer is op ’n vaste maandelikse bedrag en nie verband hou met die mate waarin die diens aan individuele eienaars gelewer of deur hulle gebruik word nie.
Die munisipaliteit het, in antwoord op AfriForum se skrywe, aangedui dat hierdie heffing ’n direkte diensfooi is en dat die minister se toestemming nie nodig is nie.

“Daar is egter geen verband tussen die diens en die koste daarvan nie. Sommige besigheidseienaars gaan meer as dubbel hul huidige eiendomsbelasting moet opdok, wat onredelik is,” sê Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslikeregeringsake.

Hierdie heffing noop belastingbetalers om ’n bykomende bedrag van R127,04 vir residensiële eiendomme en R2 911,67 vir besigheidseiendomme per maand te betaal.
AfriForum het vasgestel dat hierdie heffing nie in die munisipaliteit se strategiese beplanningsdokument voorkom nie en dié dokument toon verder dat die publiek nie vooraf hiervan verwittig is nie. “Dit is tekenend daarvan dat die munisipaliteit bykomende fondse wil invorder wat buite sy begrotingsraamwerk val.”

Soortgelyke plasings