|

AfriForum versoek munisipaliteit om onwettige smousery te stop  

AfriForum se Langenhovenpark-tak het op 24 Augustus 2020 ’n brief aan die Mangaung Metro gestuur waarin hulle versoek word om onwettige smousery in dié dorp stop te sit. Dié brief volg ná AfriForum talle klagtes van inwoners ontvang het oor onwettige stalletjies waar smouse onder meer meubels en hout verkoop waarvoor hulle nie wettige permitte het nie.

Heinrich Meyer, voorsitter van die Langenhovenpark-tak, sê voorts dat die veld agter die poskantoor in Dirk Oppermanstraat ook ’n gesondheidsrisiko vir die gemeenskap sowel as die smouse inhou.

Daar is geen ablusiegeriewe naby die stalletjies nie en die veld, wat gewild is onder drawwers in die omgewing, word deur die smouse vir hierdie doeleindes gebruik.

Die metro het in reaksie op AfriForum se brief gesê dat hulle die probleem sal ondersoek.

“Inwoners van Langenhovenpark het die reg tot ’n skoon en veilige omgewing. Straatsmouse moet aangemoedig word om by wettige straatmarkte aan te sluit om hul produkte te verkoop – daar is strenger beheer nodig oor dié bedrywighede,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

Soortgelyke plasings