| | |

AfriForum versoek NIOS om foute in epidemiologieverslag oor COVID-19 reg te stel

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag in ’n brief aan die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) versoek dat foute in die weeklikse epidemiologieverslag reggestel word. Korrekte inligting is noodsaaklik vir navorsers en raadgewers om die stand van sake met betrekking tot COVID-19 te ontleed en aanbevelings te maak.

Dit volg nadat die AfriForum Navorsingsinstituut vasgestel het dat die inligting in die verslag van week 25 nie ooreenstem met berekeninge gebaseer op die verslae van week 24 en week 25 nie. So het byvoorbeeld die totale getal mense in die ouderdomsgroep 55-59 jaar oud wat positief getoets het, afgeneem van 4 479 na 1 246 sedert die week 24 verslag, wat nie moontlik is nie. Daar is ook foute met die getal en persentasie nuwe gevalle vir meer as die helfte van die ouderdomsgroepe waaroor verslag gedoen word.

AfriForum het versoek dat die volgende stappe gedoen word:

  • Die week 25-verslag moet onttrek word en ’n kennisgewing van die onttrekking gepubliseer word.
  • Die foute in die verslag moet geïdentifiseer en reggestel word en die verslag moet weer gepubliseer word.
  • Die oorsaak van die foute moet geïdentifiseer word en stappe moet gedoen word om ’n herhaling van die gebeurtenis te voorkom; en
  • AfriForum moet ingelig word van die oorsaak van die foute en die voorkomende stappe wat gevolg gaan word.

Volgens Barend Uys, hoof van Navorsing en Ontwikkeling by AfriForum, is die geloofwaardigheid van NIOS op die spel aangesien sulke foute in ’n weeklikse verslag vertroue in die werk van NIOS skaad en ook ’n vraagteken laat hang oor ander publikasies van die instelling.

“Die NIOS word deur belastingbetalers befonds, en belastingbetalers kan daarom aandring dat dié instituut se werk van hoogstaande gehalte moet wees. Daarom hou AfriForum as burgerregtewaghond ook die NIOS namens ons lede en gemeenskappe oor die algemeen verantwoordbaar. Dit het tyd geword dat die regering afstand doen van die mislukkende benadering van staatsentralisering – desentralisering bring instellings nader aan burgers, wat verantwoordbaarheid bevorder,” sê Uys.

  • Lees die brief hier.

Soortgelyke plasings