|

AfriForum versoek reaksie vanaf Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit oor gebrek aan brandweerwaens in Heilbron

Nadat AfriForum vroeër vanjaar ’n skrywe aan die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit gerig het om te versoek dat ’n bakkie, wat as Heilbron se brandweerwa dien, herstel word, is ’n vierde huis op 9 Augustus byna in puin gelaat toe ’n brand daar uitgebreek het.

Hierdie skade moet vierkantig voor die deur van die munisipaliteit gelê word, wat versuim om die brandweerbakkie se herstelwerk te betaal sodat dit gebruik kan word om brande te blus. As dit nie was dat die gemeenskap met vuurvegters ingespring het om die brand te help blus nie, was hierdie huis ook Sondagaand totaal in puin gelê.

Die AfriForum-tak in Heilbron het reeds in Mei ’n skrywe aan die munisipaliteit gerig waarin hulle gemaan word om vir die herstelwerk van die bakkie te betaal sodat dit gebruik kan word. Geen reaksie is egter op die skrywe ontvang  nie. Intussen word amptenare betaal en geen diens word verrig nie. Die tak oorweeg regstappe indien hulle nie ’n antwoord ontvang nie.

“Die huidige situasie waar daar geen brandweerwa in Heilbron is nie, is regtig kommerwekkend. Ek wil die mense wat hulle huise in brande verloor het aanmoedig om klagtes teen die munisipale bestuurder te lê sodat hy verantwoordelik gehou kan word vir die gebrek aan dienslewering,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Heilbron” na 31481 (R1).

Soortgelyke plasings