| |

AfriForum versoek regspan om by tradisionele leierskap-saak betrokke te raak

Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy regspan opdrag gegee om by die tradisionele leierskap-saak van die Barolong Boo Seleka Tradisionele Raad van Thaba ’Nchu naby Bloemfontein betrokke te raak.

Dít volg nadat Ace Magashule, voormalige premier van die Vrystaat, op grond van ’n verslag van die Kommissie vir Tradisionele Leierskapdispute en -Eise besluit het om die leierskap van die regerende koningshuis van die Seleka Barolong, wat oor ’n tydperk van meer as 140 jaar strek, te beëindig.

“Tradisionele leierskap is ’n kernelement van ons kultuuridentiteit en gemeenskappe kan nie bekostig dat dit deur politieke inmengery ondermyn en afgetakel word nie. Ons as die regerende koninklike familie is nie behoorlik geraadpleeg nie en soos ons vandag hier sit weet ons nie wat die toekoms vir ons inhou nie. Dit is vir ons werklik hartseer dat regeringsamptenare ’n koninklike familie met so min respek behandel,” sê prinses Gaboilelwe Moroka (Motshabi), woordvoerder vir die koninklike familie.

“Tradisionele rade is gemeenskapsinstellings wat ’n baie belangrike rol speel binne gemeenskappe in Suid-Afrika. Daar kan nie toegelaat word dat hierdie instellings ook verlam word deur patronaatskap wat al soveel nadelige gevolge vir burgers van ons land veroorsaak het nie,” sê Barend Uys, woordvoerder vir interkulturele samewerking by AfriForum.

Afrikaners en die Seleka Barolong het ’n baie lang geskiedenis van goeie verhoudinge en samewerking. Dit het reeds in 1836 begin met die hulp wat opperhoof Moroka II aan Hendrik Potgieter en sy trekgeselskap verleen het nadat die geselskap deur ’n mag van die Ndebele-koning Mzilikazi Khumalo aangeval is.

Soortgelyke plasings