AfriForum versoek Speaker Baleka Mbete om geheime stemming toe te laat

Die burgerregte-organisasie AfriForum neem kennis van hoofregter Mogoeng Mogoeng se uitspraak om die geheime stemming se besluit terug te wend na die Parlement en dus Baleka Mbete, Speaker van die Parlement. AfriForum het egter ’n e-pos na die speaker se kantoor gestuur om ’n beroep te doen op Mbete se gewete en om te vra dat sy die mosie van wantroue in president Jacob Zuma by wyse van ’n geheime stemming moet toelaat.

“Alhoewel ons glo die uitspraak kon óf in ’n meer negatiewe óf meer positiewe rigting gegaan het, laat dit nou die finale besluit oor die geheime stemming by die ANC se speaker. Terwyl AfriForum nie oortuig is dat ’n geheime stemming wel tot ’n suksesvolle mosie van wantroue in die president sal lei nie, sal dit eens en vir altyd vir Suid-Afrikaners wys of daar ’n Jacob Zuma-probleem of ’n ANC-probleem in die land heers,” sê Guido Urlings, nasionale veldtogbeampte vir AfriForum.

AfriForum glo dat ’n geheime stemming alle lede van die Parlement sal toelaat om te stem volgens hul gewete, sonder vrees van nagevolge en verteenwoordigend van die belange van hul kiesers en nie dít van hul politieke meesters nie.

Soortgelyke plasings