AfriForum versoek sy regspan om in te tree by De Wildt-grondgrype


Die burgerregte-organisasie AfriForum het sy regspan opdrag gegee om nóg ’n grondgrypsaak aan te pak; hierdie keer in die De Wildt-gebied in Noordwes.

“Vandag is dag 15 sedert hierdie grondgryp begin het en die SAPD skitter in hul afwesigheid ten spyte van vele pogings om hulle tot aksie te bring. Pres. Ramaphosa beloof die wêreld dat grondgrype nie bestaan nie en dat die polisie sal optree, tog het die plaaslike Mmakau-polisiestasie skynbaar nie daardie vermoë nie,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.
AfriForum se regspan was op 16 Januarie vanjaar in konsultasie met die persone aan wie die grond behoort en is reeds besig met die nodige prosesse om die polisie te verplig om die grondgrypers te verwyder. “Ons beplan om eersdaags in die hof te wees en sodoende die polisie in hierdie verband tot verantwoording te roep; hulle versuim om op te tree maak ’n bespotting van eiendomsreg in hierdie land,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder.

Soortgelyke plasings