|

AfriForum versprei beleggersgids oor onteiening sonder vergoeding aan buitelanders

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n beleggersgids gepubliseer om buitelandse beleggers oor die gevare van onteiening sonder vergoeding in Suid-Afrika te waarsku. Die gids is daarop gemik om hulle met inligting te bemagtig sodat hulle druk op die Suid-Afrikaanse regering kan toepas om nie met ekonomies destruktiewe beleide voort te gaan nie. Dit is gepubliseer as deel van AfriForum se #DieWêreldMoetWeet-veldtog en het ten doel om beleggingsvertroue in Suid-Afrika te versterk eerder as om beleggers af te skrik.

“Die onderliggende feit is egter dat die Suid-Afrikaanse regering hom met destabiliserende beleidsidees besig hou, wat reeds groot wantroue onder beleggers skep,” sê Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie. “Beleggersvertroue kan nie volhoubaar geskep word deur mense ’n rat voor die oë te draai en perdemis as roomys te wil verkoop nie, maar eerder om potensiële beleggers met die nodige inligting te bemagtig en hulle toe te rus om hul stem te laat geld deur druk op die regering toe te pas om van dié destabiliserende beleidsidees afstand te doen.”

Die beleggersgids is opgestel met spesifieke verwysing na die verslag wat in die afgelope jaar deur president Cyril Ramaphosa se adviespaneel oor grondhervorming gepubliseer is. Ramaphosa het tydens sy staatsrede op 13 Februarie 2020 die aanbevelings van dié adviesraad onderskryf en gesê daar sal met die implementering daarvan voortgegaan word. Die verslag kan dus beskou word as ’n opsomming van Ramaphosa en die regering se plan met betrekking tot grondhervorming.

Probleme met dié plan, wat in die beleggersgids uitgewys word, sluit in dat:

  • die proses om die publiek se insette oor onteiening sonder vergoeding te kry, deurspek was met prosedurele onreëlmatighede;
  • eensydige insette deur die president oorweeg word;
  • statistieke gefabriseer of selektief aangehaal word om die beweerde noodsaak van meer radikale herverdeling van grond te motiveer;
  • die regering se idees ekonomies naïef is en rassistiese ondertone bevat; en
  • dit geweldige onkunde oor die werklikheid van kommersiële landbou toon.

Die verslag – wat internasionaal versprei is – moedig potensiële beleggers aan om hul invloed te gebruik deur in die openbaar standpunt in te neem en hul voorvereistes vir beleggings in Suid-Afrika met die regering op te neem, eerder as om bloot hul beleggings te onttrek sonder om standpunt in te neem.

Lees die Beleggersgids hier.

Soortgelyke plasings