|

AfriForum verteenwoordig Botswana-regering in geldwassery-en-bedrogsaak

 

AfriForum se privaatvervolgingseenheid, onder leiding van adv. Gerrie Nel, gaan die Botswana-regering help in ’n hoëprofielgeldwassery-en-bedrogsaak.

Die burgerregteorganisasie het vandag tydens ’n mediakonferensie aangekondig dat hul amptelik deur adv. Stephen Tiroyakgosi, Botswana se Direkteur van Openbare Vervolgings (DOV), aangestel is om die Republiek van Botswana te verteenwoordig in hul versoek om wedersydse regshulp te fasiliteer in die saak van die Bank van Botswana wat oor bedrog en geldwassery handel.

Die Botswana-regering beweer dat daar byna $48 miljoen van hul publieke fondse gesteel is en in verskeie internasionale bankrekeninge gedeponeer is. Volgens Nel wil AfriForum vasstel in watter rekeninge dié geld gedeponeer is, wanneer dit Suid-Afrika verlaat het en waarom dit weer na Botswana teruggestuur is.

Die DOV van Botswana het reeds op 25 September 2019 ’n versoek vir wedersydse regshulp aan die Departement van Internasionale Verhoudinge en Samewerking (DIRCO) gerig. Die feit dat DIRCO egter oor nege maande geen terugvoer aan die DOV gegee het nie, dui volgens Nel daarop dat die Suid-Afrikaanse regering onwillig is om die Botswana-regering met hul versoek te help omdat sekere “hoë profiel Suid-Afrikaners”, onder andere sakevrou Bridgette Motsepe-Radebe, deur dié versoek geïmpliseer sal word. Motsepe-Radebe is president Cyril Ramaphosa se skoonsuster en Jeff Radebe se vrou.

Volgens Nel is Motsepe-Radebe verlede jaar geïdentifiseer as ’n medeondertekenaar van ten minste twee bankrekeninge (waarvan een ’n Absa- en een ’n Nedbank-rekening is) wat ’n gedeelte van die meer as $10 miljard (R150 miljard) wat na bewering van die Botswana-regering gesteel is om ’n “staatsgreep” voor die nasionale verkiesing in daardie land te finansier.

Daar is ook bewerings teen Motsepe-Radebe dat sy deur middel van Avante Security Services miljoene Botswana pula gewas het om ’n opposisiekandidaat van Mokgweetsi Eric Keabetswe Masisi, Botswana se president, te finansier.

Motsepe-Radebe het verlede jaar ontken dat sy enige finansiering vir regeringsverandering verskaf het en gesê sy gaan regstappe doen teen die “leuens en vals berigte” wat oor haar versprei word. Patrice Motsepe het ook vroeër verlede jaar ten sterkste ontken dat hy en sy familie enige belang by Botswana se politiek het.

“Mev. Motsepe-Radebe het nou die perfekte geleentheid om haar onskuld te bewys en die Suid-Afrikaanse regering te vra om hul samewerking te gee. Ons kantoor wil seker maak dat daar gelykheid voor die reg is en dat enigiemand, ongeag hul familie of politieke verbintenis, ondersoek kan word,” sê Nel.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is dit vir dié organisasie ’n voorreg om amptelik met die Botswana-regering te kan saamwerk. “Dit is noodsaaklik dat ons as mede-Afrikane – wat wil help verseker dat ons kontinent suksesvol is – alles moontlik doen om bedrog en geldwassery uit te roei. Ons kontinent en sub-kontinent het geweldige potensiaal wat gekortwiek word deur korrupte elite. AfriForum is daarom daartoe verbind om die Botswana-regering se hande te sterk in hierdie noodsaaklike stryd teen korrupsie.”

Soortgelyke plasings