AfriForum verwelkom afdanking van majoor Mohlala ná haatspraak

Die burgerregte-organisasie AfriForum verwelkom die afdanking van majoor M.V. Mohlala ná ’n uitgebreide proses van interne ondersoeke deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW). Dit volg nadat Mohlala op ’n sosialemediaplasing (deur die seun van ’n bejaarde wit aanrandingslagoffer) geantwoord het dat die aanvaller die slagoffer se oë en tong moes uitgesteek het sodat die laaste mense wat hy ooit sou sien sy moordenaars was en hy na sy graf kon gaan met daardie nagmerrie. Mohlala het ook geskryf: “Apartheid is in hom. Al hierdie ou mense dink dat ons dom is as hulle sê dat hulle teen apartheid was. Ons sal nie vergeet wat hulle gedoen het nie. Dit is nou die wit mense se beurt.” 

Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger, sê dat die besluit deur die SANW en die minister van verdediging en militêre veterane, Nosiviwe Noluthando Mapisa-Nqakula, volg op ’n skrywe deur AfriForum se prokureurs ses weke gelede waarin die rede versoek word vir die minister se destydse besluit om Mohlala slegs te waarsku. Ingevolge artikel 105(1) van die Nasionale Verdedigingswet (Wet no 42 van 2002) is ’n lid van die SANW strafregtelik aanspreeklik vir haatspraak omdat die SANW ’n verenigende rol in Suid-Afrika moet speel.

“AfriForum sal verdere ontwikkelings in hierdie saak dophou en, indien nodig, privaat vervolging teen Mohlala instel,” sluit Spies af.

Soortgelyke plasings