|

AfriForum verwelkom erkenning van plaasmoorde deur premiers

Dit blyk of die volgehoue druk en bewusmaking deur organisasies soos AfriForum met betrekking tot plaasaanvalle en –moorde ten einde laas vrugte begin afwerp.

Owerhede begin ook stelselmatig tot die besef kom dat dié aanvalle en moorde nie as gewone misdaad bestempel kan word nie, sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die Noordstreek (Gauteng, Limpopo en Mpumalanga).

Die burgerregteorganisasie verwelkom die erkenning van plaasaanvalle en -moorde as prioriteitsmisdaad deur dr. Job Mokgoro, premier van Noordwes en David Makhura, premier van Gauteng.

Makhura het tydens sy provinsiale rede erkenning gegee aan die erns van plaasaanvalle en -moorde en meen dit moet as prioriteitsmisdade gelys word.  Volgens Makhura sal ’n   spesialiseenheid getaak word met die bekamping van plaasaanvalle en -moorde.

Mokgoro het ook plaasmoorde en –aanvalle ten sterkste veroordeel en gesê dit is “onaanvaarbaar en betreurenswaardig”.

Hy het dit gedoen nadat De Wet Nel van die VF Plus hom gekritiseer het omdat hy nie in sy provinsiale rede daarvan melding gemaak het toe hy oor die stryd teen misdaad gepraat het nie.

Luidens statistiek wat AfriForum op datum hou, is Gauteng met 68 aanvalle sedert die begin van die jaar, die provinsie met die hoogste getal plaasaanvalle in die land. Noordwes het tot dusver 30 aanvalle gehad en in beide provinsies was daar onderskeidelik 4 moorde.

Ivan Meyer, LUR vir landbou in die Wes-Kaap, het vroeër vanjaar, ná die moord op Stefan Smit, beloof om stappe te doen om boere te beskerm. Dit sluit in die stigting van spesialiseenhede in landelike gebiede, druk plaas op die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) om te verseker dat plaasmoorde as prioriteitsmisdade verklaar word en die teenstaan van borgtog vir beskuldigdes.

Joseph Renaud, AfriForum se veiligheidshoof vir die Sentraalstreek, sê dit is prysenswaardig dat plaasmoorde as prioriteitsmisdaad deur premiers en provinsiale ministers bestempel word, maar dit is jammer dat pres. Cyril Ramaphosa steeds daaroor swyg en selfs op internasionale platforms ontken dat dit ’n krisis is.

Renaud beklemtoon die noodsaaklike rol wat burgerlike instellings soos AfriForum speel om veiligheidstrukture te vestig om boere en gemeenskappe te help om hulself te beveilig en meer weerbaar te maak.

Intussen het Sihle Ngobese, ’n ontleder by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV), in die naweek by die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein gesê politici se haatspraak teen boere dra beslis tot plaasaanvalle en –moorde by. Hy meen boere en Suid-Afrikaners moet bewus wees van die groter aanslag teen hulle. “Dit gaan nie net oor misdaad nie, maar oor ’n geveg oor jou lewe, vryheid en eiendom.”

Volgens Ngobese is Suid-Afrikaners nou onder beleg deur die politici. “Hulle wil jou eiendomsreg hê en dit dra by tot die geweld teen boere.”

Daarbenewens word boere deur politici voorgehou as die hoofoorsaak van alle probleme in die land.

Soortgelyke plasings